HOE reageer ’n ma as haar baba ophou asemhaal terwyl sy borsvoed? Sy raak histeries.
Juis daarom het die Treadway-egpaar van Bezuidenhoutville op Adelaide besluit om hul traumatiese ervaring met Mid-Karoo Express lesers te deel.
Met die koerant se besoek aan die egpaar in Goliath-Meyerstraat die afgelope Sondag, sit Fabian Treadway (42) en sy eggenote Nadia (37) rustig in sy skoonma se huis. Die spanning van die afgelope week is nog duidelik op hul gesigte merkbaar. Kort-kort gaan loer ouma Yvonne of die twee-maande oue Nathan nog rustig in die kamer slaap.
Luidens Nadia het sy verlede Dinsdag kort ná agt vir klein Nathan begin borsvoed. Uit die niet het hy opgehou asemhaal, blou ge-trek en in haar arms styf geraak.
“Ek het hom geskud en histeries vir die mense rondom my begin skree. Ek het ge-dink my kind gaan in my arms sterf.”
Klein Nathan is na die hospitaal geneem waar hy aan ’n ventilator gekoppel is. By die hospitaal het hy bykans sewe maal opgehou asemhaal en moes hy weer bygebring word. X-strale het getoon dat hy apnee het.
Mid-Karoo Express se korrespondent het die ganse drama by die hospitaal aanskou aangesien Fabian se ma hom angstig gebel het om ’n nooddoop op Nathan uit te voer. Nathan se pa het langs die monitor met klein Nathan in sy arms gestaan en angsbevange na die dokter geroep sodra die asemhalingslesing op die toestel daal. By ’n lessenaar in die kindersaal het ’n platgeslane Nadia bewend en op-die-oog-af radeloos gesit.
Ten tye van die doopseremonie het familie en verpleegsters om klein Nathan en sy ouers gestaan en hardop hul eie gebede opgesê.
Die dokter aan diens het gereël dat klein Nathan per ambulans na ’n hospitaal in Oos-Londen oorgeplaas word, aangesien sy toestand nie verbeter het nie.
“Ek het nooit so hard tot God gebid soos op daardie dag nie. Dit het gevoel asof die kleinding ons enige tyd kan verlaat. Om alles te kroon het die ambulans op King William’s Town uit brandstof geraak, maar ge-lukkig naby ’n vulstasie.”
By die Cecilia Makiwane-hospitaal het klein Nathan voorkeurbehandeling ontvang nadat hy in die kinderafdeling van die hospitaal se intensiewe-sorgeenheid opge-neem is. Hy is inderhaas aarvoeding toegedien en ’n reeks toetse is op hom uitgevoer.
Daar is bevind dat daar ’n blokkasie in sy lugweë was en dit het daartoe gelei dat sy asemhaling ophou wanneer hy geborsvoed word, omdat hy dan nie deur sy mond kan asemhaal nie.
Nathan is die afgelope naweek uit die hospitaal ontslaan. Volgens sy ouers is sy gelaatskleur nou ligter en is hy ook baie meer aktief.
“Ons is dankbaar dat die Here ons kind aan ons teruggegee het. Ons kyk nou met nuwe oë en meer waardering na die lewe en is dankbaar teenoor almal wat ons byge-staan en in gebed opgedra het,” het Fabian gesê.