EK hou nogal daarvan om kerk toe te gaan. Toe ek klein was, was klein pienk “ouderlingspilletjies” in my ouma se handsak die groot aantrekkingskrag.
Toe ek ’n tiener was, was dit die seuns, en noudat ek ’n klompie jare groot is, is dit seker die enkelkaartjie na die Ewigheid wat my aan-spoor.
Kerk het in lewensjare geweldig verander. My vroegste hrinnering is aan die tyd toe my pa ouderling was en hy elke Sondag, met manel en pluiskeil, so ’n halfuur voor die res van ons kerk toe gestap het – glo vir ’n vergadering en om almal in die regte stemming te bring vir Dominee se groot woorde.
Die manel en pluiskeil is afgerond met ’n spier-wit hemp en gestyfde beffie. Die beffie, onthou ek, het ons elke Saterdagmiddag by aunty Rachel gaan haal, wat dit – en die stywe boordjie – pragtig gestyf en gestryk het. Dit was voor die dae van groepsgebiede en aunty Rachel (baie lank al salig), het in dieselfde straat as my ouma gewoon, maar net ’n entjie verder af.
Daardie dae was predikante nogal iets om voor bang te wees. Hulle het ’n pikswart toga ge-dra en wanneer hulle hul arms uitgestrek het, het hulle vir my baie soos yslike vlieënde vlermuise gelyk. Hulle het ook nie luidsprekers no-dig gehad nie. O nee, die oubasies, wat, sover ek kan onthou, net verdoemenis en ellende gepreek het, kon jy sonder moeite vér buite die kerkmure hoor. Daar was ook geen kans vir slaap nie,
In daardie dae was ek ’n DAT lidmaat (doop, aanneem, trou) van die kerk.
My aanneming was natuurlik ’n ander storie. Ons moes twee weke katkisasie loop om vir dié groot stap voor te berei – boeke van die Bybel opsê, tekste leer, beloftes aflê en al daardie dinge. Op die finale aand – toe dit nou regtig ‘make or break’ was voordat die groot aanneemdag kon aanbreek – stel Ou Dominee mos die miljoen- dollarvraag: “Wie van julle gaan na jul aanneming aanhou dans? Ek waarsku julle: die een wat sy hand opsteek, sal nié deur my aangeneem word nie!”
Joe, dit was erg! Ek wou nie jok nie, maar ek moes darem my ouers die vreeslike vernedering spaar dat hul enigste ooilam katkisasie gedop het! Toe het ek maar, soos my maats, my hande styf in my kleurbaadjiesakke gedruk en my oë toegehou.
Vandag is die kerk baie meer ontspanne en die predikante meer ingestel op saligheid en verlossing. Die vraag is: “Om te kerk of nie te kerk nie?” Ongelukkig is dit nou so dat nie een van ons wat die kerkbanke so getrou warm broei, verseker is van ’n plek in die hemel nie.