Elizabeth Jordaan-tehuis groet hul oudste inwoner

SUSAN Oosthuizen, die oudste inwoner van die Elizabeth Jordaan-tehuis in Cradock, is verlede Vrydag, 23 Februarie, oorlede slegs twee dae nadat sy haar 100ste verjaardag gevier het.


SUSAN Oosthuizen, die oudste inwoner van die Elizabeth Jordaan-tehuis in Cradock, is verlede Vrydag, 23 Februarie, oorlede slegs twee dae nadat sy haar 100ste verjaardag gevier het.

Sy was die Woensdag nog deftig uitgevat in ’n pienk tweestukpak wat sy self gemaak het, gereed vir die gesellige verjaardag-teeparty vir die inwoners en personeel van die tehuis, waar sy vir die afgelope klompie jare gewoon het.

Oosthuizen sou verlede Saterdag die eregas by nog ’n verjaardagpartytjie gewees het waar al haar familie teenwoordig sou wees.

Party van dié familielede het van so ver as Kempton Park gekom en haar susters, Drieka du Plessis en Martie Marais, is ook onderskeidelik van Potchefstroom en St Francisbaai.

Oosthuizen is egter vroeg Vrydagoggend rustig in haar slaap oorlede.

Sy is in 1918 in Cradock gebore, maar het laerskool by Bellevue op Somerset-Oos bygewoon.

“Ek kan goed onthou hoe ons elke oggend skool toe gestap het en dat ons daardie jare ons Standerd 6-eksamen by Rocklands Hoër Meisieskool op Cradock moes kom skryf,” het sy vertel met Mid-Karoo Express se besoek voor haar afsterwe.

Sy het haar skoolloopbaan by die Sacred Heart-klooster op Cradock voltooi nadat haar ouers hulle op die plaas Vrisgewaagd in die distrik gevestig het.

Ná skool het sy as administrasie klerk by die Spoorweë in Port Elizabeth gaan werk waar sy haar man, Boet, ontmoet het. Hulle het kort voor die troue terug Cradock toe verhuis waar hul vier kinders, Susan Vermaak van Hofmeyr, Johan en Magda Kitching van Kempton Park en Simon, wat ook onlangs oorlede is, gebore is. Sy word oorleef deur drie van haar kinders, asook 10 kleinkinders en 12 agterkleinkinders.

Oosthuizen was bekend vir al die Huisgenoot-blokraaisels wat sy al vir jare lank doen.

“Dit hou mens se kop helder,” het sy verduidelik.

Die honderdjarige se hande het haar lewe lank vir niks gevou gestaan nie en sy en haar suster, Drieka, wat toe ook in Cradock gewoon het, het groot bekendheid verwerf vir die pragtige trourokke, matriekafskeidrokke, voorstellingsuitrustings en baie meer wat hulle deur die jare gemaak het.

Haar begrafnis het Maandag, 26 Februarie, vanuit die Elizabeth Jordaan-tehuis plaasgevind en is gelei deur ds. Attie van Wyk van die NG Cradock Noord-gemeente.

You need to be Logged In to leave a comment.