Elsa Fourie van Middelburg sterf

SUSANNA Elsie (Elsa) Fourie (néé Erasmus) is op 3 Maart op 75-jarige ouderdom in die Wilhelm Stahl-hospitaal in Middelburg oorlede.


SUSANNA Elsie (Elsa) Fourie (néé Erasmus) is op 3 Maart op 75-jarige ouderdom in die Wilhelm Stahl-hospitaal in Middelburg oorlede.

Elsa is op 29 September 1942 in Cradock gebore. Sy het op die plaas Huntly Glen in die Bedford-distrik grootgeword.

Elsa was die derde-oudste en enigste dogter van sewe kinders. Haar skoolloopbaan het sy in Adelaide begin en dit in Bedford voltooi. Ná skool het sy in Adelaide verpleeg.

Sy het Johan Fourie van Somerset-Oos ontmoet en hulle het in die huwelik getree, waarna hulle na Noupoort verhuis het en al vier hul kinders gebore is – Elna (oorlede), Amanda, Hannelie en Johan.

Gedurende 1990 het hulle na Middelburg verhuis. Op 24 Januarie 2008 het Johan haar ontval en het sy steeds in haar huis aangebly.

Op 27 Februarie het Elsa onverwags siek geword en is sy na ’n hospitaal in Bloemfontein oorgeplaas. Op 2 Maart is sy egter terug oorgeplaas na Middelburg, waar sy tot met haar dood was.

Sy word oorleef deur haar kinders Amanda Viljoen van Middelburg, Hannelie Nagel van Paarl en Johan Fourie van Middelburg en hul kinders; asook haar broers Johan, Deon, Marius en Pieter Erasmus.

You need to be Logged In to leave a comment.