‘Engele’ voed honger magies

DOUVOORDAG verlaat hulle die ge-rief van hul wonings om by skole reg-oor die land vir kindertjies ’n voedsame maaltyd voor te berei.


DOUVOORDAG verlaat hulle die ge-rief van hul wonings om by skole reg-oor die land vir kindertjies ’n voedsame maaltyd voor te berei.

Dit terwyl hul eie spruite nog salig in droomland is. Dit is een van die vele nalatenskappe van oud-president Nelson Mandela wat geglo het dat geen kind op ’n honger maag onderrig behoort te ontvang nie.

Die ontslape Mandela sou verlede Woensdag sy 100ste verjaardag vier.

Mid-Karoo Express het verlede week by die kombuis van die Junior Sekondêre Skool Newton gaan inloer waar ’n agttal flukse dames besig was om voedsel vir die skool se bykans 800 leerders voor te berei. Hoewel dit maar kort ná 08:00 was, het berge rys reeds in groot skottels klaar gekook gestaan en was ’n magdom potte besig om op ’n paar gasstowe te prut – klinkklare bewys van hoe vroeg daar al vir diens aangemeld is.

Teen 08:30 begin die junior klasse reeds vir hul bordjies aantree en met die draai van die son is alle mae gevul en die skottelgoed ook reeds gewas. Dan begin die voorbereiding vir die volgende dag se groot kook. Van aartappels skil tot groente voorberei.

Luidens Cheryl van Rensburg, een van die skool se voedselhanteerders, geniet hulle wat hulle doen.

“Daar is niks lekkerder as om die glimlagte op die vele honger kindergesiggies te sien nie,” verklaar Van Rensburg terwyl sy ’n pot met lekker hoenderbredie omroer.

“Vir baie van die kinders is dit hul enigste maaltyd vir die dag.” Skole oor die hele land wat by die drie laagste kwintiele ingedeel is, verskaf elke skooldag ’n maaltyd aan elke leerder by die skool.

Die spyskaart wissel daagliks van maalvleispasta, krummelpap met melk, mielies en bone tot hoenderlewertjies op brood en hoenderbredie met rys en groente.

Leerders kry ook op ’n gereelde basis vrugte.

Voedselhanteerders word ’n vasgestelde maandelikse fooi betaal. Hulle word ook jaarliks roteer in ’n poging om werkskepping te bevorder.

“Ons waardeer die opoffering wat hierdie vroue maak om ons kinders hier by die skool te voed,” het een van vele ouers by navraag gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.