Evergreens-klub mik vir titel

EVERGREENS se rugbyspan het sedert 16 Junie die tweede rondte van die OP Grand Challenge Shield met ’n missie begin om sodoende vir die uitkloprondtes te kwalifiseer.


EVERGREENS se rugbyspan het sedert 16 Junie die tweede rondte van die OP Grand Challenge Shield met ’n missie begin om sodoende vir die uitkloprondtes te kwalifiseer.

Die twee top spanne van elk van die vier groepe in die OP Grand Challenge Shield speel oorkruis in die kwarteindrondtes. Hierdie top agt uitklopfases begin in die eerste week van September.

Deel van die klub se missie is ook om die feesjaar onvergeetlik te maak met goeie rugby, hope vermaak en die hernude betrokkenheid van die Evergreens-oudspelers.

Tot dusver het die span oorwinnings behaal teen Middelburg Eagles (18-10), Somerset Harlequins (28-7), Somerset Wailers (28-0) en Karoo Springbokke (14-9). Evergreens is saam met Sentraal, Aberdeen en Middelburg Excelsior van die top vier spanne wat sake uitspook vir twee kwalifiserende plekke in groep C. Uit die 11 wedstryde tot dusver het die Cradock-span ses gewen, een gelykop gespeel (en een uitstaande).

Indien Evergreens sy oorblywende tuiswedstryde teen Sentraal, Aberdeen en Adelaide Rangers wen staan hy ’n goeie kans om die uitklopfase te behaal.

Evergreens se netbalspanne het hul eweknie van Karoo Springbokke goeie kompeterende wedstryde gegee. Die B-span het 18-20 verloor en die eerste span het 20-13 gewen.

Evergreens-sportklub herdenk vanjaar sy stigting as Holy Rosary-skoolspan onder leiding van Willie Alcaster in 1948.

Weens die skoolspan se goeie resultate en hope talentvolle spelers is dit later geregistreer as ’n klubspan wat liga gespeel het teen onder andere Universals, Chickens, Karoo Springbokke en Falcons.

Die feesvieringe is vasgemaak vir die Erfenis-naweek in September om die klub se 70ste bestaansjaar te vier. Die fokus van die klub se feestelikhede is ook om die ondersteuners te beloon met groot pryse waaronder ’n motor, ’n rekenaar en ’n televisie wat tans uitgestal word by die tuiswedstryde.

Oud-spelers gaan ook by die feesprogram betrek word deur ’n “Big Brag Open Mic,” memorabilia wat opgeveil sal word en ’n feeswedstryd teen Sentraal (Graaff-Reinet) se Legendes-rugbyspan.

Die naweek (21 Julie) takel Evergreens sy ou Saru-aartsvyand, Sentraal, in Cradock. Sentraal is een van die voorlopers op die punte-stand, maar Evergreens het met sy harde oorwinning oor Karoo Springbokke gewys hulle kan hul spelpeil lig as dit moet. Dit behoort ’n interessante wedstryd te wees wat ’n groot impak kan hê op die puntestand met nog vier rondtes oor. Ondersteuners word aangemoedig om die span te kom ondersteun.

Details van die feesprogram (21 tot 23 September) sal ook mettertyd bekend gemaak word.

Ondersteuners moet daarop let dat die sport-toernooi, apart van die fees, soos gewoonlik op 1 September voortgaan. – MEDEWERKER

You need to be Logged In to leave a comment.