Familie sê vrou het doodgetreur na enigste kind se verdrinking

OM ’n kind te verloor is een van die grootste tragedies wat enige gesin kan tref.


OM ’n kind te verloor is een van die grootste tragedies wat enige gesin kan tref.

Indien die ma ’n enkelouer is en boonop haar enigste kind verloor maak dit die situasie nog soveel erger.

Maar wanneer jou kind se oorskot nooit gevind word nie, kan dit net grootskaalse emosionele trauma veroorsaak.

Die 59-jarige Mary Pokpas van Cradock is in Januarie vanjaar aan hartversaking oorlede en sowel haar broer Martin Pokpas en suster Belinda Louw is dit eens dat hierdie gebroke moeder haarself doodgetreur het.

Mid-Karoo Express het Pokpas se suster, Louw (54) die afgelope Maandag by haar woning in Visagiestraat in die Michausdalwoonbuurt op Cradock besoek.

Die hartseer van haar suster se verlies het nog vlak op haar gesig gelê. Louw het vertel van die tragiese verdrinking van Pokpas se enigste seun, die 22-jarige Ashwell Pokpas, op 13 Februarie 2011.

“Hy en ’n paar vriende het dié noodlottige middag lafenis in die Visrivier gaan soek. Ashwell het onder die water verdwyn en is nooit weer gesien nie. Polisieduikers het vir ’n volle maand die visrivier vir sy oorskot gefynkam, maar niks gevind nie.

“Sy ma het destyds by Tygerberg-hospitaal in Kaapstad as algemene assistent gewerk en my jonger broer moes die tragiese nuus aan haar oordra. Ashwell het net die vorige jaar sy mondigwording gevier en was sy ma se oogappel. Hy was ten tye van sy verdrinking ’n werknemer van die plaaslike munisipaliteit,” het Louw verduidelik.

Volgens Louw het haar ouer suster gewerk en gelewe vir haar enigste kind.

“Sy het ná haar seun se tragiese ongeluk nooit oor hom gepraat nie. Al sou ons die onderwerp aanroer sou sy net wegstap. Haar hartseer en verdriet het sy in haar hart en siel opgekrop.

“Ek dink die feit dat sy nooit die geleent-heid gehad het om voor ’n graf te staan en afskeid te neem nie het haar ’n geweldige slag toegedien,” het ’n emosionele Louw gesê.

Kort na haar seun se verdrinking is Pokpas met erge diabetes gediagnoseer en het haar gesondheid drasties agteruitgegaan. Drie jaar gelede het sy op vroeë aftrede gegaan en na Cradock teruggetrek.

Volgens Louw is sy in Januarie vanjaar deur ’n mediese praktisyn meegedeel dat sy ernstige hartversaking onder lede het. Sy is slegs twee dae daarna oorlede.

“Ek dink die onsekerheid en die gebrek aan ’n graf om by te gaan rou het haar ge-sondheid geknak,” het Louw gesê. Haar jonger broer Martin deel haar sentimente.

“Ek is een keer na Port Elizabeth ontbied om ’n liggaam uit te ken wat by die Swartkopsrivier uitgespoel het. Ek self, sowel as polisieduikers was dit eens dat ’n liggaam nooit so ver van sy oorspronklike verdrinkingsarea kon uitspoel nie.

“Ek het nietemin ’n foto saamgebring maar my suster wou nooit daarna kyk nie. Ek het dit maar later opgeskeur,” het Pokpas gesê.

Luidens Louw het die familie destyds deur ’n baie moeilike tyd gegaan. Daar was geen bewys van dood en gevolglik geen doodsertifikaat nie.

“Ons mis haar, maar gun vir haar en Ashwell die rus en vrede waar sy beendere ook al rus,” het Louw gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.