FAMILIE en vriende van Kavian Jason Petrus is nog steeds verslae na die onlangse dood van hierdie jong man van Somerset-Oos in ’n motorongeluk.
Kay-Kay, soos wat hy genoem is, op 31 Maart in die ouderdom van 22 jaar – net twee maande voor sy 23ste verjaarsdag op 24 Mei – oorlede. Hy was die jongste kind van Kenneth (Kenny) en Veronica Petrus.
Kavian en twee vriende het die Saterdag-aand in ’n Volkswagen Polo gery toe die motor teen ’n lamppaal op die pad tussen Uitkeer en Somerset-Oos gebots het.
Al drie is beseer en is in die Andries Vosloohospitaal opgeneem waar Kavian later oorlede is.
Volgens Kenny kan niemand nog met sekerheid sê wat daardie aand gebeur het nie. Volgens Kolonel P. Jonas van die plaaslike polisie, word ’n saak van strafbare manslag ondersoek.
Hy laat sy oupa en ouma, ouers, sy oudste broer, Kenvor en suster, Vauneen agter. Volgens Kenny is die hele gesin se pyn steeds erg en die emosies bly in ’n warboel, maar met die ondersteuning van vriende en familie glo hulle sal die gemis draagliker word.
Hulle koester die baie spesiale oomblikke en goeie herinneringe en kry só die krag om weer stappie vir stappie met die lewe aan te gaan.
Kavian is beskryf as iemand met ’n breë glimlag en die vriendelikheid vanself wat altyd bereidwillig was om ander te help.
Hy het sy laerskoolloopbaan by die Primêre Skool William Oates begin en in 2015 by Gill-Kollege gematrikuleer.
Hy het nie aan sport deelgeneem nie omdat hy, net soos sy broer, ’n Hemofilie-lyer (Faktor-13 defek) was.
Kavian wou graag onderwyser word, nes sy pa, maar is afgekeur en hy het juis gewag om weer aansoek te doen.
Sy ouers sê dat Kavian hulle baie trots gemaak het omdat hy soveel mense met sy vriendelike geaardheid na hom toe aangetrek het. Hy het baie vriende gehad en hy het hulle altyd huis toe gebring en aan sy ouers voor-gestel.
Volgens sy ouma was hy ’n goeie en gehoorsame seun met sprekende oë en die allermooi-ste glimlag. “Hy het nooit vir baie gevra nie, maar as hy iets gekry het, het hy dit met groot waardering ontvang,” was sy familie dit eens.