DIE gemeenskap van Tamboekiesvlei by Hertzog in die Katriviervallei is teleur-gesteld, dog dankbaar, nadat kospakkies ’n volle maand nadat hulle deur ’n hewige storm getref is, verlede week uiteindelik by hulle afgelewer is.
’n Hewige storm, gelykstaande aan ’n mini-tornado, het op 14 April die gebied getref en grootskaalse skade aangerig.
Altesame 19 wonings is gedeeltelik en andere geheel en al met die grond gelyk gemaak.
Die gebied is die daaropvolgende week deur Oos-Kaapse amptenare van rampbestuur besoek wat die slagoffers in ’n vergadering belowe het om die nodige bystand aan hulle te verleen. Hulle het egter vir drie weke sonder enige terugvoering gewag.
Die 44-jarige Estelle du Preez, een van die slagoffers, het verlede Maandag nog aan Mid-Karoo Express gesê dat hulle maar nou op moedverloor se vlakte gaan sit het. “Ons is al gewoond daaraan om vir die gek gehou te word. Dis immers nie die eerste ramp wat ons tref nie. Soos in die verlede sal ons weer opstaan,” het Du Preez gesê.
Verlede Donderdag egter het amptenare van rampbestuur die gebied besoek en 13 kospakkies aan die slagoffers oorhandig. Die oorblywende nege is belowe dat hulle vandeesweek nog hul pakkies sal ontvang.
“Ons is dankbaar vir die pakkies en wag nou op terugvoering rondom die herstel van ons huise,” het Du Preez gesê.
Die slagoffers het hul dank uitgespreek teenoor Helen Malgas, LUR in die provinsiale regering wat op hul pleidooi ag ge-slaan het. Die kospakkies is deur haar en Nombulelo Maki van Maatskaplike Ont-wikkeling gefasiliteer.