OM te kuier by die Farmhouse Grill in Middelburg is nie ’n restaurantbesoek nie . . . dis ’n tuiskoms.
Toeriste van heinde en ver, vreemdelinge, stedelinge en dorpenaars loer graag hier in.
Dalk is dit die gesellige plaasatmosfeer. Dalk die heerlike spyskaart met tradisionele kosse en dan die verrassend anomaliese disse soos botterhoender met roti’s, wat baie gewild is.
Maar heel moontlik is die Farmhouse Grill se grootste trekpleister ’n tannie van die Karoo.
Vandag se dae is ’n konstante gejaag na geld, prestasies en wind.
As mens dan die slag Karoo toe kom, soek ’n mens rus. Jy soek jou ma se warmte, jou ouma se kos en ’n kraakwit bed om in te lê.
En dít is iets wat Anita van der Merwe baie goed verstaan.
“Vir 45 jaar al is ons hier in die dorp. My man, Johan was al die jare dosent op Grootfontein en ek was maatskap-like werker. Maar om óm te gee het gevaarlik geraak – ek is selfs eenmaal met ’n sambreel toegetakel dat die bloed loop!” het Anita gesê.
Omdat sy toe alreeds dikwels spyseniering gedoen het, het sy in 1997 besluit om die Farmhouse Grill te begin.
“Ons is nou 21 jaar oud vanjaar. Oud-Grootfonteiners kom sê nog gereeld hallo as hulle deur die dorp reis.”
In 2003 het Anita en Johan die Stables Inn geopen. Dié bed-en-ontbyt-instelling, wat bedryf word deur hulle seun, ook Johan, grens aan die Farmhouse Grill, en was toenterjare ’n apteek.
“Ons hou van óú goed. En mense wat deur die Karoo reis, kom soek nie hier blinkgoed en modegiere nie.
“Daarom is ons maar altyddeur besig om die ou geboue van die Stables en Farmhouse te restoureer.
“Mens kan dit nie alles gelyk doen nie, maar ons probeer die ou karakter herstel, want mense voel tuis hier, asof die plek hulle aan goeie tye herinner.”
’n Onderhoud in “tannie Anita” se kombuis geskied nie sonder onderbrekings nie. Vriende en familie loer kort-kort in.
Toe ek huis toe ry, dink ek aan Anita se vriendin, Rentia Adams, se woorde: “Anita is ’n goeie mens, ’n harde werker met ’n warm hart,” en ek onthou die bloedrooi malvas in die Stables se binnehof.