WAT kry jy as jy ’n vakansiedag, ’n verjaarsdag en ’n afskeid alles deurmekaar roer? ’n Feestelike gedoe – dis wat.
Daar is saam geklub en saam hande gevat en sodoende is 25 van die bejaardes wat by die ACVV-dienssentrum in kamers of in die woonstelletjies woon, op hierdie dag behoorlik bederf.
Dit was ’n herfsdag en almal het hulle op die stoep tuisgemaak en heerlik geklets terwyl Anita Nel en George Greenshields die vure gestook en die vleis gebraai het.
Die verruklike reuk van die vuur het die monde gou laat water en dit was ook nie lank nie toe almal aan geurige braaivleis, brood, slaaie en ’n reuse verjaarsdagkoek vir nage-reg kon smul.
Die regering was verantwoordelik vir die vakansiedag, Petro Bouwer vir die verjaarsdag en Alfie du Pisanie vir die afskeid omdat hy binnekort na die tehuis vir bejaardes, Silwerjare, sal trek.
Ná die gedoe kon almal nie uitgepraat raak oor die onverwagse genotvolle dag en groot bederf nie.
Elkeen het ook ietsie gekry om huis toe te neem as ’n gelukkige herinnering van ’n dag se saamkuier.“Dit was baie lekker, en ’n skitterende idee, want daar is talle van hierdie bejaardes wat baie eensaam is, alleen in hul kamers sit en bitter min, indien ooit, ’n ge-leentheid kry om gesellig saam te kuier,” vertel ’n helpster.