BEJAARDES van die Elizabeth Jordaan-tehuis op Cradock luister al van 16:00 af elke Sondag fyn vir die klanke van ’n trollie wat in die gange af kom.
As hulle dié geluid hoor, weet hulle Flo Fletcher, die vrou met die heerlike sop, is op pad. Flo vertel dat sy sewe jaar gelede al met haar soptrollie begin het. Omdat die kombuispersoneel van die tehuis reeds vroeg op ’n Sondagmiddag huis toe gaan aangesien daar nie op dié dae taxis is om hulle te ver- voer nie, kry die ou mensies vroegmiddag ’n toebroodjie en ’n glasie koeldrank wat hulle vir aandete moet bêre.
“Terwyl ek by my skoonsuster in die tehuis gaan kuier het, het die storie van die broodjie en koeldrank my baie gehinder. Ek het een nag wakker geskrik en duidelik die woord ‘sop’ gehoor,” het sy vertel.
Dit was vir haar ’n teken en van toe af neem sy elke Sondagmiddag ’n gesonde, koppie warm sop wat sy van kamer tot kamer bedien, vir die inwoners.
“In die begin was daar baie mense en moes ek Sondagmiddae twintig liter sop kook, maar nou is die inwoners baie minder. Ek neem maar altyd bietjie ekstra want sommige het partykeer gaste en ander hou weer van twee bekers sop,” het sy vertel.
Die sop word gewoonlik gemaak van hoender, gemengde groente of ertjies of botterskorsies. “Ek wil nie baie daaroor praat nie want ek beskou dit as my tiende aan my kerk,” het sy gesê.
As Flo dalk by van haar ander kinders gaan kuier, neem haar seun, Allen, die takie oor en kook en lewer hy self die sop af. “Hy het empatie met ou mense en hy is ook ’n baie goeie kok,” het sy met trots vertel.
Flo se ander liefdadigheid is drie rondloperkatte elkeen met pragtige blou oë. “Die katte,” sê sy, sit glad nie hulle bekke aan katpille nie, maar verkies brood met botter op. As ek hulle melk gee, moet daar suiker in wees. Maar ag, hulle vang seker vir ons die muise in die omtrek,” het sy vertel.