VERPLEEGSUSTER Nelie Kellerman, wat die afgelope ses jaar die Florence Nightingale van kankerpasiënte op Cradock en omgewing was, lê aan die einde van hierdie maand die tuig as kankersorgsuster neer.
“Die jare stap aan en ek het besef dat ek moet afskaal. Ek gaan egter nie net op my louere rus nie, maar sal steeds soggens voortgaan met die weeg van babas, hulle immunisering en algemene evaluasie en nogsteeds wonde behandel en inspuitings gee,” het sy verduidelik.
Nelie, wat op Cradock skoolgegaan het, het ná skool opleiding as verpleegster by die Frere-hospitaal in Oos-London voltooi voordat sy as ontvangsdame by ’n plaaslike dokter kom werk het. Daarna het sy by die Cradock Laboratorium en bloedbank begin werk waar sy opleiding in die neem van EKGs en bloed-verenigbare toetse, ondergaan het.
Nadat sy gewerk het in ’n spreekkamer van twee spesialiste van Uitenhage, wat Cradock maandeliks besoek het, het sy ook in ’n privaat hospitaal op die dorp gewerk voordat sy in 1999 besluit het om haar privaat praktyk vir tuisverplegingsdienste by haar huis te begin.
In 2012 het Nelie in diens van Cradock Kan-kersorg getree en was sy betrokke by die pyn, lyding en hoop van al die dorp se inwoners wat met die “Groot K” geworstel het.
“Met kankerpasiënte raak jy baie betrokke by die mense en alhoewel jou opleiding baie keer bewys dat daar eintlik geen hoop is nie, moet jy hulle bemoedig en aanmoedig en die hele hartseerpad saam met hulle stap,” het sy gesê.
Alta Bouwer het Nelie vir drie jaar, eers as vrywilliger en toe as lid van die personeel van Kankersorg, gehelp. Nelie sê dit was vir haar ’n groot hulp en ondersteuning in moeilike tye. Alta lê ook aan die einde van dié maand die tuig neer.
Volgens Nelie is ’n kankerpasiënt nie die enigste in ’n familie wat jy moet bystaan nie, maar dat jy ook die gesin deur die donker tyd moet ondersteun en gedurig moet probeer verduidelik wat besig is om te gebeur.
“Om kindertjies te versorg wat siek is, is baie traumaties. Palliatiewesorg is ’n moeilike paadjie om te stap en as pasiënte in die privaat kliniek by my huis opgeneem word, is hulle dag en nag in my sorg,” het sy gesê.
Nelie het egter almal met babas, wonde en wat inspuitings moet kry, verseker dat sy soggens nog op haar pos sal wees. Sy gaan egter net van 09:30 tot 13:00 werk en skaal af van die lang ure en nagtelike noodgevalle.
– WILNA DE KLERK