Bedford se eie helde – Pedro Lottering en Fernando Jacobs het al tientalle drenkelinge se oorskot uit damme en riviere gehaal.Foto: NOLAN VENTER


DIE onlangse verdrinking van twee jong seuns van Bedford in die Oos-Kaap het die fokus op twee van dié klein plattelandse dorpie se helde geplaas.

Die 24-jarige Fernando Jacobs en Pedro Lottering (35) se name is deesdae op ieder en elk se lippe in Bedford. Dié twee het die aand van die Adams-neefs se verdrinking hul eie lewens in gevaar gestel deur vir ’n volle sewe ure in die nag onverpoos na die lyke van hul twee dorpsgenote in ’n plaasdam te soek.

Gemeenskapslede het toue om hul lywe vasgebind en gewapen met ’n 5-meter-lange ysterstaaf het hulle die dam ingevaar om na die drenkelinge in die diep, troebel waters te soek.

Tussen middernag en 1vm die daaropvolgende oggend het hulle uitgeput by die drenkelinge se lewelose liggame langs die damwal gestaan.

Die Mid-Karoo Express het die twee helde ná afloop van die begrafnis op die dorp se rugbyveld gekry waar hulle besig was om op te warm vir ’n wedstryd. Fris gebou en op die oog-af waagmoedig – kompleet soos opgeleide lewensredders.

Die twee manne, wat geen formele swemafrigting ontvang het nie, het by vier vorige geleenthede ook al lyke uit riviere of damme gehaal. Die jongste was 10 en die oudste 30.

Hoekom doen hulle dan sulke ge-vaarlike werk? “Uit liefde en omgee vir ons medemens,” verklaar Pedro.

“Ons wil families die trauma spaar om tot die volgende dag te wag vir hul geliefdes se oorskot. Wanneer iemand laatmiddag verdrink kom po-lisieduikers eers die volgende oggend na hulle soek. Verbeel jou net deur watter periode van angs en be-kommernis gaan naasbestaandes nie in daardie tyd nie.”

Die twee se raad aan ouers is om hul kinders bewus te maak van die gevare van water. So kan baie verdrinkings verhoed word.

Fernando se grootste wens is dat ’n plattelandse eenheid in samewerking met die polisie op die been gebring word, want met die regte toerusting sal hulle baie meer kan vermag. “Ons kan nie vir altyd op duikers uit een van die omliggende stede se genade wag nie,” sê Pedro.

Wat verskaf vir hulle die grootste genot? “Die verligting en dankbaarheid wat ons op families se gesigte sien wanneer ons hul naasbestaandes se oorskot uit die water gehaal het,” sê Fernando.

Nog twee weldoeners, Daniël en Joseph Botha, staan ook die twee by met die herwinning van drenke-linge.

You need to be Logged In to leave a comment.