Food Court: Kuierkos en karoonag

OUR Yard, gewilde eetplek in Graaff-Reinet, het die afgelope Saterdagaand weer Food Court gehou, en Mid-Karoo Express het gaan kyk waarom dié kos-kuier onder die sterrehemel só gewild is dat mense selfs uit omliggende dorpe ry om dié geleentheid mee


Hestie van der Mescht (eienaar) en Mandi Hough (bakker) by Polka se stalletjie, waar dit maar swaar gaan om te kies tussen al die lekkernye. Foto:Elsabé Pienaar

OUR Yard, gewilde eetplek in Graaff-Reinet, het die afgelope Saterdagaand weer Food Court gehou, en Mid-Karoo Express het gaan kyk waarom dié kos-kuier onder die sterrehemel só gewild is dat mense selfs uit omliggende dorpe ry om dié geleentheid mee te maak.

Algemene bestuurder André van Rensburg vertel dat Our Yard en die ewe gewilde (aangrensende) Polka, ’n goeie samewerkingsverhouding het.

“Ons het aanvanklik ’n straatmarkie met stalletjies deur die publiek aangebied, maar eindelik besef dis nie heeltemal die ‘vibe’ wat ons wou skep nie en toe besluit op ‘n stylvolle, dog gemaklike kos-kuierervaring.

“Tydens Food Court sluit ons die restaurant, en word al die kos bedien vanuit net vier of vyf stalletjies. Dié word dan behartig deur plaaslike eetplekke van ons dorp.”

Benewens Our Yard en Polka, het die Drostdy-hotel en Madelein Boucher, ’n plaaslike spysenier, stalletjies gehad tydens Saterdag se Food Court.

Maria’s Coffee Brewery se deure was oop vir die koffieliefhebbers, asook Our Yard se Johanneson (kontantkroeg), wat spog met ’n werklik indrukwekkende verskeidenheid jenewer, “craft” biere, rum en uitstekende wyne.

Food Court is ’n trappie óp van die standaard basaar – die atmosfeer is amper Europees van aard.

Hesti van der Mescht, eienaar van Polka, vertel: “Ons maak Somersetstraat toe weerskante van Polka en Our Yard, en dan word dit ’n gemoedelike kuierplek vir toeriste en veral ons plaaslike gemeenskap.”

Tafels en stoele is uitgepak á la straatkafee en ’n veteraanvragmotor word ingespan as verhoog vanwaar lewendige musiek gemaak word.

Die Food Court se geldstelsel is vaartbelyn – koop ’n kosbewys of “token” vir R25 of R30. André vertel dat hulle graag die kosse wat aangebied word, afwissel, sodat elke Food Court uniek is.

Hulle is ook nie bang om te waag nie – moenie net karookos hier verwag nie.

Enige iets van Mexikaanse tot Oosterse disse is al bedien.

Omdat die kosse in kleiner volumes aangebied word, kan gaste kuier-kuier meer as een daarvan beproef.

Food Court word aangebied op die laaste Saterdag van elke maand 17:30 tot 22:00 (mits die weer saamspeel).

Vir meer inligting, kontak Our Yard by 049 891 0337 of Polka by 087 550 1363.

You need to be Logged In to leave a comment.