DIE welkome reën wat die afgelope twee weke met reëlmaat op Fort Beaufort uitgesak het, het vele tuine op Fort Beaufort in lushowe omskep.
Die reën het die afgelope twee weke van gietend tot sag en deurdringend gewissel. Hoewel dit nie naastenby genoeg was om damvlakke drasties op te stoot nie, glimlag die meeste inwoners van oor tot oor uit dankbaarheid vir die groenigheid wat hulle tans omring.
Vele ywerige tuiniere wat oor die huidige toedrag van sake gepols is, sê dat dit nou die regte tyd is om te plant.
Omliggende dorpe het ook goeie neerslae verklaar. Die enigste jakkalsie in die wingerd is nou die slaggate in die dorpe se strate wat deesdae met grond of sand herstel word.
Ná ’n goeie reënbui dam water in hierdie gate op en word hulle net nog meer uitgekalwe. Alle aanduidings is egter dat inwoners nog baie reën in die nabye toekoms kan verwag.

