DIE sagte deurdringende reën wat onlangs op Fort Beaufort neergesak het, het inwoners van dié dorp in ekstase.
Die vooruitsigte vir reën het weke lank belowend gelyk, maar dan het daar telkens net ’n teleurstellende buitjie oor die dorp uitgesak. Die afgelope naweek se reën het onophoudelik van Vrydagaand tot Sondag oor die dorpie uitgesak en behoorlik die dorre grond natgemaak. Gisteroggend het dit ook op die dorp gereën.
Dit was ’n welkome verligting vir vele tuine ná die ondraaglike hitte waaronder die dorp gebuk gegaan het.
Selfs op die naburige Adelaide het dit verlede naweek lekker gereën. Hoewel temperature nog aan die hoë kant is, wil dit voorkom asof die ys nou vir nog welkome reën gebreek is.
Nog baie reën is egter nodig om die opgaardamme wat stadig maar seker leegloop, se volumes te laat styg.
– NOLAN VENTER