’n FORT BEAUFORT vrou se lewe is in die fleur van haar jeug onherroeplik verander ná ’n tragiese busongeluk in Oktober 2016.
Die 25-jarige Stacey-Lee Fredericks was op dié noodlottige dag saam met ander passasiers vanaf Fort Beaufort na Worcester op pad in ’n bus van ’n welbekende busmaatskappy.
Stacey-Lee vind dit steeds moeilik om oor die nagmerrie-rit op 14 Oktober 2016 te praat weens die traumatiese herinneringe wat dit by haar oproep.
Sy onthou dat sy kort voor dagbreek ge-speel het met ’n seuntjie wat langs haar in die bus gesit het. Hulle was in daardie stadium naby Touwsrivier.
“Ek moes seker ingesluimer het, want ek het ewe skielik ’n gewikkel gevoel en ge-dink dat dit die seuntjie is wat my wakker maak. Ek het nog half deur die slaap agtertoe gekyk toe ’n ouma in verontwaardiging uitroep.
“Die oomblik toe ek weer vorentoe kyk het die bus gekantel en met ’n oorverdo-wende slag op sy een kant te lande gekom nadat die bestuurder op die skouer van die pad beheer verloor het.”
Stacey-Lee sê sy weet nie hoe nie, maar die volgende oomblik was sy buite die bus met bloed wat oor haar gesig stroom. “Ek sal die gekerm van die beseerdes en die gehuil van klein kindertjies nooit vergeet nie.”
In die ongeluk is 13 passasiers op slag dood en is 33 vir ernstige beserings in die hospitaal opgeneem. “Die pad was lank vir verkeer gesluit om ambulansdienste en verkeerspersoneel geleentheid te bied om die ongeluksterrein op te ruim.”
Terwyl die trane vrylik oor haar wange rol vertel Tracey-Lee by haar ouma se woning by Proteastraat in die Newtown-woonbuurt aan Mid-Karoo Express hoe die onge-luk haar lewe onherroeplik verander het.
Sy is met ’n ernstige kop- en rugbesering in die hospitaal opgeneem. Weens die kopbesering kry sy gereeld epileptiese aanvalle en verswak haar sig drasties as sy lank aan die son blootgestel is.
Die besering aan haar rug veroorsaak dat sy ook nie baie lank kan staan of ver ente loop nie. Sy slaap sleg en sommige dae is die pyn ondraaglik.
Haar ma is oorlede toe sy maar ses maande oud was en sy woon tans by haar 66-jarige ouma, Mildred Petersen.
“Ek het gedink dat ek eendag vir my ouma sal kan sorg maar met my huidige ge-sondheid glo ek nie ek sal ooit geskikte werk kry nie.”
Wat Tracey-Lee nog meer grief is dat niemand van die busmaatskappy ooit kontak met haar gemaak het om oor haar welsyn navraag te doen nie.
“Ek wag nou al meer as ’n jaar vir terugvoering van die padongelukkefonds. Intussen vat ek maar elke dag soos dit kom,” sê sy terwyl sy nog ’n verdwaalde traan van haar wang wegpink.