NÁ aanleiding van verskeie skrywes deur die Middelburg Sake- en Belas-tingbetalersforum aan die Inxuba Yethemba-munisipaliteit insake ’n hele aantal knelpunte, het die nuwe munisipale bestuurder, Xolela Msweli, op Donderdag, 7 Junie ’n vrugbare vergadering met die Forum se bestuur gehou.
Ten spyte van die omstredenheid rondom sy aanstelling waarin daar in die Oos-Kaapse media berig is, het Msweli gesê hy sal die Forum voorsien van ’n afskrif van sy wettige aanstellingsbrief en hulle verseker dat hy hom daartoe verbind om hulle griewe te help aanspreek.
Van die kwessies wat die Forum met Msweli bespreek het, was:
- Eskom rekening – IYM skuld Eskom tans R53 miljoen. Volgens Msweli is daar egter ’n afbetalingsooreenkoms met Eskom beding en het Eskom onderneem om nie beurtkrag toe te pas in Middelburg en Cradock as gevolg van wanbetaling nie.
Msweli het voorts gesê die munisipaliteit gaan strenger kredietkontrole toepas op munisipale rekeninge asook uiters streng optree teen individue en besighede wat hulle skuldig maak aan onwettige kragverbruik en die omseiling van kragmeters.
- Dringende behoefte aan wetstoepassingsbeamptes – Die Forum het dit op die munisipale bestuurder se hart gedruk dat die aanstelling van wetstoepassingsbeamptes in Middelburg onverwyld moet geskied. Die voorsitter van die Forum, Engela Kruger, het aan Mid-Karoo Express gesê dat nie net buite-landers wat handel dryf sonder lisensies binnekort streng vervolg gaan word nie, maar ook die eienaars van hierdie sakepersele.
“Die wettelose, informele handelaars ruk tans hand uit, veral in die hoofstraat, en hulp is dringend nodig om die aftakeling van die sentrale besigheidsgebied stop te sit.”
Die wetstoepassers sal ook gemoeid wees met die hantering van die rondlopervee. Msweli het gesê Middelburg se skut behoort binne drie maande te open. Intussen sal ’n vragmotor van Komani (Queenstown) steeds gestuur word om diere van nasionale paaie te verwyder.
Vervolg op bl2