“WANNEER jy goeie gesondheid geniet en jonk van gees is, is 92 jaar net genade.”
Só sê Frances Louw wat deur vriendinne met ’n vrolike verjaardagpartytjie verras is.
Die partytjie is by ’n vriendin van haar, Toeks Dreyer, se huis in Jubilate gehou.
Frances is op 16 Mei 1926 in Montagu as oudste van drie kinders gebore. Haar jonger broer en suster leef ook steeds.
“Die oudwordgene is maar in ons bloed, want my moeder was 98 toe sy oorlede is en daar is nog ander familielede wat ook die 90s verbygesteek het,” vertel sy.
Ná matriek het sy haar BSc-graad voltooi en haar HOD verwerf. Sy het in 1951 begin onderwys gee by die Bellevue Meisieskool in Somerset-Oos waar sy vir twee jaar gebly het. Daarna is sy by die La Rochelle Meisieskool in die Paarl as onderwyseres aangestel.
Haar ridder op die wit perd het sy ontmoet terwyl sy in Somerset-Oos gewoon en gewerk het. Phillip Louw, ’n jong boer van De Hoop, Middleton, het haar uiteindelik in 1955 voor die kansel gekry. Só het sy dan ’n jong boervrou geword en is hul deur die jare geseën met twee seuns en twee dogters. Phillip is in 2011 oorlede waarna sy dorp toe getrek het.
Haar oudste kind, Zirk se dood op 55 was vir haar ’n groot skok, maar sy is dankbaar dat haar ander kinders nog met haar is. Lenore Benade (60) woon in Pretoria, Suzanne Theunissen (56) woon in Port Elizabeth en Nico (51) woon in Kanada. Sy is ook geseënd met 11 kleinkinders en ses agterkleinkinders.
Sy sit steeds nie stil nie – sy bestuur steeds haar eie motor en geniet nog goeie gesondheid.
Sy drink elke oomblik van elke dag in en maak die beste daarvan. “Tyd is baie kosbaar in hierdie stadium van jou lewe,” lag sy.
Frances het Toeks en Landi Ferreira bedank vir die heerlike verrassingspartytjie.