WOORDE, sinne, paragrawe, boeke stroom behoorlik uit Freeda Moon se een en enigste vinger wat sy kan gebruik, uit – tot 1 000 woorde per dag.
Mercia van der Vyver, soos die meeste mense haar ken, is serebraal gestremd vanaf geboorte. Sy is te vroeg gebore op ses-en-’n-half maande en het slegs 1 kg met geboorte geweeg.
Met Mid-Karoo Express se besoek aan haar in Huis Silwerjare in Somerset-Oos, waar sy al vir ’n paar jaar woonagtig is, lyk sy ontspanne in haar rolstoel wat haar konstante metgesel is. Haar oë blink wanneer sy oor haar lewe tot dusver gesels.
Gou blyk dit dat hierdie jong vrou nie iemand is wat haar maklik laat onderkry nie. Sy lewe met oorgawe en is passievol oor stories en haar skryfwerk. Sy erken dat sy soms kwaad en gefrustreerd voel, maar dié gevoel waai gou oor as sy begin lees, droom en stories uitdink. Dít neem haar van die duisternis na die lig.
Mercia se ouers en veral haar ma, was baie ondersteunend en het haar dogter aangemoedig om haar beste te gee, ten spyte van die talle uitdagings. So het sy haar matrieksertifikaat in 1993 by Cape Recife in Port Elizabeth met drie onderskeidings verwerf.
Hierna het sy ’n verrykende diplomakursus van een jaar by Intec Kollege met joernalistiek en sielkunde as hoofvakke gevolg, wat groot waarde tot haar skryfwerk toevoeg.
Waar kom haar liefde vir stories vandaan? As klein dogtertjie het sy al begin belangstel in geskiedenis, want haar pa was ’n geskiedenisman. Ook die verskillende kulture en mitologie het haar nuuskierigheid geprikkel. En dit is dan hoe sy binne-in die Ierse mitologie en stories ingetuimel het.
In 2013 is sy en haar suster, Chrizette, op ’n nege dae toer Ierland toe en daar het sy haar hart totaal en al verloor – veral op Aran-eiland en Gallway.
Wanneer sy nie lees of skryf nie, leef sy haar in haar droomwêreld uit. “Ek droom selfs met oop oë,” voeg sy ernstig by.
Dis hier waar sy regtig vry is en waar sy haar in haar innerlike gedagtes en drome kan inleef. Dis hoe sy besluit het op haar skryfnaam: Freeda Moon – ’n haarfyn sinspeling op die woord “freedom”.
Dit is dan ook hoe sy haar stories skryf. Sy wil vir die leser ’n wêreld skep waarin hulle hulself kan inleef, vlerke kry en uiteindelik volkome vreugde vind. “Amper soos die Harry Potter-boeke wat lesers regoor die wêreld meegevoer het,” voeg sy by.
Die voorloper van die reeks The Parish of Balynor, waaraan sy tans werk, is Whisper to the Moon en die eerste boek in hierdie reeks, Selkie’s Promise, word op Vrydag, 23 Maart, in die Langenhoven-biblioteek in Somerset-Oos bekend gestel. By hierdie geleentheid sal van haar boeke verkoop word en sy sal by wees om die boeke te “teken” met haar vingerafdruk.
Sy is tans besig met die tweede boek in die reeks, Selkie’s Magic. Dit is dus die vierde boek waaraan sy werk.
Sy kry goeie terugvoer en resensies oor haar boeke en sy is vasberade om nog eendag met haar woordkuns ’n bestaan te maak.