Futurekids monitors spog met hul nuwe balkies

DIE eerste Futurekids-les wat by die Laerskool Cradock aangebied is, was op 31 Augustus 1999.


DIE eerste Futurekids-les wat by die Laerskool Cradock aangebied is, was op 31 Augustus 1999.

Die nuwe rekenaarsentrum was goed toegerus en die personeel het opleiding ontvang om rekenaargeletterdheid aan die leerders te onderrig.

Sedert dié skool die eerste tree in die wêreld van rekenaartegnologie geneem het, het rekenaaropleiding vir alle leerders in die skool moontlik geword.

“Futurekids” is ’n internasionale organisasie wat rekenaaropleidingsprogramme, wat noodsaaklik vir feitlik elke moderne beroep is, in skole en aan individue aanbied.

Die leerders kry die geleentheid om rekenaarvaardighede te bemeester en sodoende hulself vir hul beroepslewe voor te berei.

Tans beskik die rekenaarsentrum oor 40 werkstasies, wat in ’n netwerk aan die hoofrekenaar gekoppel is.

Die onderwyser kan met gemak ’n klas van 40 leerders onderrig, terwyl elkeen by sy of haar eie rekenaar werk.

Die rekenaarlokaal is toegerus met lugreëling, wat die rekenaarlesse vir al die leerders ’n baie aangename ervaring maak.

Die lokaal beskik verder oor ’n media projektor, wat deur die onderwyseresse in hul lesaanbieding benut word, sodat die leerders duidelik kan sien wat hulle moet doen deur die onderwyser se hoofrekenaarskerm op die witbord te kan volg.

Op hierdie manier het leerders ’n visuele voorbeeld om die instruksies wat die onderwyser gee, te volg.

Onderrig word in die volgende rekenaarprogramme aangebied, naamlik Microsoft Word, Excel, Powerpoint, Woordverwerking, sigblad asook Multimedia.

Die gr. -7-leerders word ook die geleentheid gebied om deur middel van ’n “ Power Point”- aanbieding’ hul jaarlikse entrepreneursdag te bemark. Dit is verstommend hoe gevorderd die leerders se rekenaarvaardighede teen die einde van hul gr. 7-jaar is.

Om die onderwyseresse in die Futurekidsklas by te staan, word daar elke jaar ses gr. 7-leerders aangestel om as monitors van die rekenaarsentrum diens te doen.

Hierdie monitors is verantwoordelik om daagliks die rekenaars aan en af te skakel en ook seker te maak dat alles reg en netjies is en alle toerusting gereed is vir wanneer die onderwysers hul rekenaarlesse wil kom aanbied.

Die volgende leerders is tydens ’n saalbyeenkoms as rekenaarmonitors aangewys: Juandré Duvenage, Corné du Plessis, Karla Goosen, Thabang Fuzani, Dylan Page en Ruan Rieck.

You need to be Logged In to leave a comment.