DIS hierdie tyd van die jaar, wanneer die winde die winter se laaste stuiptrekkings wegblaas dat nostalgie my behoorlik beetpak.
My gedagtes teruggevoer word na my kommervrye kinderdae, midde die golwende heuwels van my geliefde geboortedorpie. En nou moet ek ruiterlik erken dat die winter nog al die jare my geliefkoosde seisoen is.
Lank voor die aanbreek van winter het Oupa klokslag een keer per week ons don-kiekarretjie ingespan en saam het ons dan een van die vele plantasies ingevaar. Daar het Oupa dan die stompe van afgesaagde bome met sy koevoet uitgegrawe. Aan gewone gekapte hout het hy nie geglo nie. ’n Stomp, het Oupa geglo, brand lank en stadig en gee ook baie meer hitte af.
Tuis is die stompe met ’n magdom beitels en Oupa se tienpond hamer oopgekloof en vir die naderende winter opgestapel. In ’n dennewoud aangrensend aan ons woning het ons kinders sakke vol dennebolle by-mekaar gemaak wat tuis as vuuraanste-kers gebruik is. Kyk, as daai terpentyndeurdrenkte bol met ’n vuurhoutjie aan-gesteek word, was die resultaat ’n vuur wat skrik vir niks. Dis nou lank voor die tyd van neef Blitz en ander kunsmatige vuuraanstekers.
Sodra die winter met krag en mag begin inskop, het Oupa ons 5-gellingkan met die gaatjies en draadhingsel nader getrek. Dan het ons laaities ons vroegaand reeds wydsbeen sitgemaak en grootoog gestaar na die vlamme wat gulsig lugwaarts lek.
Binne die kombuis is ons getroue Welcome Dover ook stuk-vir-stuk uitmekaar gehaal en alle plate en roosters met ’n staalborsel skoongeskuur. As en roet is uit elke hoekie en draaitjie gekrap en sy is vir die winter blinkgepoets.
Vele wintersaande met etenstyd het ons Ouma se heilsame en stomende boontjie-sop versigtig en rus-rus opgeslurp. Uit groot sopbekers wat Oupa sommer uit die konfytblikke van my kleintyd saamgeflans het. Op ronde rivierklippe sou ons dan tot ergenis van die grootmense murg uit beesbene kap en met ons kindertongetjies aflek. Uit blote ondeundheid sou ek een of twee bene doelbewus in ’n hoekie op die vloer laat lê net om my te verkyk aan die magdom rooimiere wat die volgende oggend daarop sou krioel.
Slapenstyd het ek die voorreg gehad om myself eers agter Oupa se rug op te warm voor ek in my eie kinderbedjie gaan in-kruip. Dan sou ek my koue kindervoetjies eers lekker aan Oupa se longjohns warmvryf. Ek hoor nog die geritsel van Ouma se mielieblaarmatras onder my.
In die snoesigheid van my eie kinderbedjie op die vloer sou ek later my liggaam knipmes trek en op Klaasvakie se rug die lang, rustige rit droomland toe aanpak. Maar vir my was die lekkerste winterlekker nóg om soggens op pad skool toe die geknars van ryp onder my kaal kindervoetjies te voel.
’n Stomende plaat beesmis te gewaar en my verkluimde trappertjies daarin te verswelg. Die verkwikkende gevoel is haas onbeskryflik.
Ja-nee, gee my maar enige tyd bibber-koue winterweer, stomende boontjiesop en ’n knetterende houtstompvuur om die koue mee te troef. Vir my is dit stukke beter as die ondraaglike hitte en rusverstorende muskiete wat so eie aan warm weer is . . .