Geliefde inwoner sterf skielik

Theuns Eksteen (76), jarelange inwoner van Graaff-Reinet wat diep spore in dié dorp getrap het, is die afgelope Sondagaand skielik oorlede nadat hy Vrydagaand ’n kopbesering opgedoen het.


Theuns Eksteen (76), jarelange inwoner van Graaff-Reinet wat diep spore in dié dorp getrap het, is die afgelope Sondagaand skielik oorlede nadat hy Vrydagaand ’n kopbesering opgedoen het.

Volgens Eksteen se eggenote, Daphleen, het hulle buite gestaan om na die maansverduistering te kyk, toe hy agteroor geval het. Eksteen is op die toneel vir harsingskudding behandel, maar teen Saterdagoggend het sy toestand versleg, waarna hy na ‘n hospitaal in Port Elizabeth gehaas is. Medici kon hom daar egter geen hulp meer bied nie. Volgens Daphleen het Eksteen die laaste paar maande aan vertigo (duiseligheid) gely.

Theuns Eksteen vroeër vanjaar tydens ‘n ontbyt wat deur Die Burger op Graaff-Reinet gehou is. Foto: Argief

Eksteen se afsterwe laat ’n geweldige leemte in die gemeenskap van Graaff-Reinet, waar hy tot met sy dood aktief op verskeie komitees ge-dien het.

Peter Whitlock, tesourier van die Graaff-Reinet Erfenisbewaringsvereniging, vertel:

“Theuns het ’n passie vir Graaff-Reinet en die natuur gehad. Hy was die huidige voorsitter van die Erfenisbewaringsvereniging en het ook nou met die Rupertstigting en Reinet-trust saamgewerk om historiese geboue in Graaff-Reinet te bewaar en histories korrek te restoreer.

“Uit sy liefde vir die natuur het hy ’n aktiewe rol gespeel in die bewaring van die destydse Karoo Natuurreservaat se grond toe dit in die 1990’s bedreig is deur onwettige boerderyaktiwiteite. Hy was aktief betrokke by die totstandkoming van wat nou bekendstaan as die Camdeboo Nasionale Park, en ook stigterslid van Granaat – die Vriende van die Camdeboo Nasionale Park.”

Walter en Anne Murray, wat saam met Eksteen lede van Granaat was, vertel dat hy ’n gemoedelike, opregte mens was.
“Hy het altyd ’n kort, waardevolle boodskap met ons vergaderings gelewer, en daarvan gehou om af te sluit met: ‘Water verdeel die wêreld, wyn verenig die wêreld, kom ons drink daarop!’”

Samantha Graham, huidige DA-koukusleier in Graaff-Reinet, sê Eksteen was ’n staatmaker in die gemeenskap.

“Hy was die seremoniemeester tydens die bekendstellingsgeleentheid van die DA in 2000 in Graaff-Reinet, ons destydse koukusleier, en ook ’n persoonlike mentor – ek het ontsettend baie by hom geleer.”

Volgens Graham was Eksteen nooit in enige besluitnemingspro-sesse tevrede met enigiets minder as slegs dít wat tot voordeel van die hele gemeenskap sou strek nie.

“Hy was ’n rariteit in die hedendaagse politieke ruimte, vanweë sy eerlikheid, opregtheid en absolute integriteit.”

Eksteen was hoofbestuurder van die destydse Suid-Afrikaanse Merino-stoettelersvereniging van 1973 tot 1994 en ook ’n hele aantal jare voorsitter van die hospitaalraad op die dorp.

Theuns het ’n passie vir Graaff-Reinet en die natuur gehad.
Peter Whitlock

Garth Cloete is sedert 1974 bevriend met Eksteen en was ook ’n kollega. “Daar was destyds seker nie ’n pad in hierdie land waarop ons twee nie saam gery het terwyl ons die land deurkruis het op inspeksies nie.

“Ons was steeds saam aktiewe lede van Granaat, en Theuns was ook een van ’n groep vriende wat nog elke Vrydag saam gholf gespeel het.”

Eksteen laat sy eggenote Daphleen na, asook sy kinders Ben en Carla (Briedenhann), stiefkinders Billy, Tommy en Lize-Marie Bosch, en agt kleinkinders.

  • Sy begrafnis sal Donderdag, 9 Augustus om 11:00 in die Groot Kerk in Graaff-Reinet plaasvind.

You need to be Logged In to leave a comment.