JOHNNY Cross, wat 36 jaar vir die Somerset-Oos-munisipaliteit, (vandag die Blue Crane Route-munisipaliteit) gewerk het, is op 11 April in die ouderdom van 87 jaar oorlede.
Inwoners van Somerset-Oos onthou Johnny, wat op 29 Maart 1931 in Somerset-Oos gebore is, as ’n innemende man wat baie jare van sy lewe aan die munisipaliteit en die dorp se inwoners gewy het.
Hy het ’n groot liefde gehad vir houtwerk, tuinmaak, die kweek van orgideë, die optrek van planne, om maar ’n paar van sy belangstellings te noem.
Hy en sy vrou Hester (77) het ook saam by die rolbalklub aangesluit waar oom Johnny erelid geword het.
Johnny het altyd stil-stil sy gang gegaan en gedoen wat sy hand gevind het om te doen.
Hy was vriendelik en het nie gehuiwer om te help waar hy kon nie.
Wat baie min mense weet, is dat Johnny vir baie jare lank die NG Kerk se horlosie opgewen en aan die loop gehou het.
Sy seun, Hilton, vertel met ’n tikkie heimweë hoe hy altyd saam met sy pa was wanneer hy hierdie hartsplig gaan uitvoer het.
Sy pa is dan met die trappe op met ’n olie-bottel in die hand om sommer die nodige oliewerk ook te doen en Hilton het buite rondgespeel.
Wanneer sy pa die wysers moes stel, het hy Hilton van bo af deur ’n venster geroep en dié moes dan sê wanneer die wysers op die regte plek was.
Johnny en Hester het in Julie 2016 na Huis Silwerjare verhuis.
In die laaste drie maande van sy lewe was hy bedlêend en het Hester hom versorg.
Johnny laat sy vrou Hester, drie kinders, Godfrey, Hilton en Ethel, vyf kleinkinders en twee agterkleinkinders agter.