MANNETJIE Kemp, ’n geliefde inwoner van Graaff-Reinet, is op 4 September in Aurora-hospitaal in Port Elizabeth oorlede ná ’n siekbed van ses maande.
Hy was die afgelope 24 jaar superintendent by Huis Eybers, koshuis van die Laer Volkskool.
Mannetjie en sy eggenote, Jaco, het saam studeer aan die destydse onderwyskollege op Graaff-Reinet en is einde 1981 in George getroud.
Hulle is reeds nagenoeg 37 jaar inwoners van Graaff-Reinet, waar Mannetjie aanvanklik verbonde was aan die destydse buitelugskool, voordat hy diens as koshuisvader by die laerskool aanvaar het.
Jaco het net mooi herinneringe aan haar eggenoot.
“Hy was baie lief vir kinders, en het baie kinders se harte geraak. Hy was die eerlikste mens wat ek nog ooit geken het. Sy werk was sy alles. Hy was absoluut regverdig, en het nooit een kind bo ’n ander bevoordeel nie. Ook in koshuisaangeleenthede sou hy dinge altyd goed oordink en goeie raad gee en met wysheid optree. Hy was ’n uitstekende beplanner,” het sy gesê.
Die kinders wat tuisgaan in Huis Eybers het op 5 September op die sportveld byeengekom en ballonne vrygelaat ter nagedagtenis aan hul geliefde koshuisvader.
“Dit was nodig vir hulle,” het Jaco vertel. “Sy afsterwe laat ’n groot leemte in hulle lewens, en dit was vir my ’n gepaste manier om hom te groet so op ’n sportveld, want hy was baie lief vir sport.”
DJ van Wyk, ’n vriend en mede-geesdriftige, het vertel dat Mannetjie baie lief was vir sy Harley Davidson-motorfiets.
In ’n huldeblyk op Facebook het Van Wyk vertel “ . . . hy het beskuit gebak, hy het vleis gewerk, konfyt gemaak en wat nog alles gedoen. Hy en tannie Jaco het ure saam spandeer om allerhande sulke dinge vir hulself, of die koshuis waar hul koshuisouers was, of hul eie kinders, of wie okal te doen! Hy kon stoei met geloofskwessies. Hy het sterk gestaan en vrae gevra. Nooit was hy bereid om net ruggraatloos saam met die stroom te swem nie.”
Gideon van der Mescht, ’n onderwyser by die Laer Volkskool en 38 jaar lank bevriend met Mannetjie, onthou hom as ’n beginselvaste, behulpsame vriend.
“Hy sou 02:00 in die nag opstaan om ’n vriend in nood te help. Hy was hardwerkend en gasvry – hul huis staan altyd oop, of dit nou ’n koningsmaal of roosterbrood en eiers is, mens is altyd welkom. En hy was baie lief daarvoor om tyd te spandeer op hul plaas buite Victoria-Wes.”
Mannetjie laat sy eggenote Jaco agter, asook sy seun De Klerk, dogter Ri-Ellen en twee kleindogters. Die skool en gemeenskap het Maandagmiddag tydens ’n lofprysingsdiens van Mannetjie afskeid geneem.
“Ons het nie ’n tradisionele begrafnis gehou nie, want dit is nie wat hy sou wou gehad het nie. Mannetjie was só lief vir jongmense, musiek en sang! Hy was lief vir die lewe, en só sal ons hom onthou,” het Jaco aan Mid-Karoo Express gesê.