TYDENS die Middelburg Country Fest and Fun Fair wat op 8 September by die Primêre Skool Karel Theron se sportgronde plaasgevind het, het die bekende Country-sanger Gerhard Supra, Karina Pattinson en Estelle van Lelyveld Meintjies opgetree.
Middelburg se saksofoonspeler, Darren Jacobus wat onlangs Suid-Afrika in New York by die Amerikaanse talentkompetisie verteenwoordig het, het ook by die fees opgetree.
Verskeie stalletjies met eetgoed en geskenkidees, asook ’n talentkompetisie is aangebied.
Die fees wat oorspronklik deur ’n paar geesdriftige ouers beplan is, was groot pret te midde van reën, kapok en koue weer. Dit het hulle egter nie onder gekry nie, aangesien hulle reeds maande lank die fees beplan het en dit vir ’n baie spesiale doel was.
Hul einddoel was om geld vir van die gr.7-leerders van Karel Theron in te samel wat ook graag saam met hul klasmaats die jaarlikse toer na Kaapstad wil bywoon, maar nie die nodige fondse het nie.
Anet van Wyk, wat ook in beheer van die snoepie by die skool is, was die dryfveer agter alles.
Vroeg Saterdagoggend is die verrigtinge as gevolg van die weersomstandighede na die skoolsaal geskuif sodat die sangers en talentkunstenaars op die verhoog kon optree.
Teen 19:00 is pryse oorhandig aan die wenners in die verskeie afdelings van die Mnr. en Mej. Country-, en Mej. Skapie- en Mnr. Rammetjie- kompetisie, asook die talentkompetisie.
Daarna kon almal heerlik ontspan en saamdans terwyl die bekende Gerhard Supra die verhoog oorgeneem het met sy diep stem.
Volgens Van Wyk gaan daar verseker ’n Middelburg Country Fest volgende jaar wees!
“Al het dit hierdie jaar gekapok is ek tevrede met my spannetjie. Ons het saamgestaan en deurgedruk tot die einde. Midros se orkes het self aangedring om die mars deur die strate te doen. Hulle was wonderlik. Volgende jaar gaan ons ’n stappie groter want Gerhard Supra gaan self deel raak van ons span om ons te kom help!”
Van Wyk is verder baie opgewonde en sy voel geëerd om vir Gerhard te kan help met sy beplanning vir sy toer na Port Elizabeth in November.