Gerwel-huis in skrywerstuiste omskep

DIE Jakes Gerwel-stigting is in die proses om die ruim en historiese Gerwel-huis in Pauletstraat op Somerset-Oos, met ses slaapkamers, vele werks-ruimtes, ’n lesinglokaal en lowergroen tuin in ’n skrywershuis te omskep.


DIE Jakes Gerwel-stigting is in die proses om die ruim en historiese Gerwel-huis in Pauletstraat op Somerset-Oos, met ses slaapkamers, vele werks-ruimtes, ’n lesinglokaal en lowergroen tuin in ’n skrywershuis te omskep.

Volgens Theo Pauw, Uitvoerende Direkteur van die Stigting, is van die toekomstige projekte wat hier beplan word onder meer om ’n tuiste vir skrywers te bied waar hulle kan herlaai of skryf.

Daar word ook beplan aan ’n mentorskapsprogram vir opkomende skrywers wat andersins nie die geleentheid sou gehad het om hul skryfvaar-dighede met kundige leiding te slyp nie.

Me. Beneatha Adams wat al vir jare saam met die Gerwel-gesin werk, is steeds in beheer van Paulethuis en sy groot tuin.

Die Gerwelhuis was ook die plek waar daar op Sondag, 23 September bymekaargekom is vir die eerste ge-leentheid wat op Somerset-Oos gehou is as deel van die Etienne van Heerden Veldsoirée, wat op Cradock aangebied word in samewerking met die Jakes Gerwel-stigting.

“Dis ’n groot eer vir die Veldsoirée om ’n deel van die program by Jakes Gerwel se huis aan te bied en om so ook die gemeenskap van Somerset-Oos, ’n dorp waarvoor Gerwel baie lief was, te bereik,” het Darryl David, die feesorganiseerder, gesê.

Mense wat die Veldsoirée op Cradock bygewoon het, het spesiaal Somerset-Oos toe gereis om die verrigtinge by die Gerwel-huis by te woon en die Battiss-museum te besoek.

Nadat gaste en skrywers die Walter Battiss-museum besoek het, het hulle in die lowergroen tuin, in die skadu van ’n reuse boom en met tientalle voëls vir geselskap, hul sitplekke ingeneem.

David, het as seremoniemeester, die gewilde en uiteenlopende groep skrywers aan die gaste voorgestel. Hulle was Karin Brynard (ontspanningsverhale), Bettina Wyngaard (verskeie), Ronelda Kamfer (gedigte), Nathan Trantaal (gedigte) en Dana Snyman (reisverhale).

Hierna het hulle uit hul skryfwerk voorgelees, daaroor gesels en vrae uit die gehoor beantwoord.

Aan die einde van die geslaagde middag is die gaste met heerlike versnaperinge en lafenis vir die droë kele trakteer waarna die skrywers tussen die gaste beweeg en gesels het. Boeke van die skrywers is deur Fogarty’s Boekwinkel van Port Elizabeth uitgestal en verkoop en die kopers was bevoorreg om dadelik die handtekeninge van hul gunsteling skrywers te kon bekom.

Van die Somersetters wat die verrigtinge bygewoon het, is baie opgewonde oor wat hulle beskou as die positiewe en nuwe verwikkelinge wat in die voor-uitsig gestel word en wat in die toe-koms baie vir die dorp kan beteken.

Om die nalatenskap van Gert Johannes (Jakes) Gerwel te bevorder is die Jakes Gerwel-stigting deur sy vrou, Phoebe, gestig. Sy beywer haar daarvoor om haar oorlede man se nagedagtenis en ideale te laat voortleef.

Jakes, wat oorspronklik van Kommadagga, naby Somerset-Oos, afkomstig was, word allerweë bestempel as ’n hoogs aangeskrewe opvoeder, be-skermheer van die kunste, ’n bekwame sakeleier en trotse familie- en gesinsman.

You need to be Logged In to leave a comment.