DIE toestand van een van Cradock se gedenkwaardighede, die perde-drinkbak, op die hoek van Frere- en Durbanstrate, is ’n seer oog vir baie inwoners van die dorp wat nog omgee vir die geskiedenis en dit wil oppas vir toekomstige geslagte.
Hierdie eens pragtige gedenkteken is op 26 Junie 1902 deur die Cradock-dorpsraad opgerig ter ere van die kroning van koning Edward VII en koningin Alexandra wat op 22 Januarie 1901 in Londen plaasgevind het.
Dit is vervaardig deur Walter Macfarlane en Kie van die Saragen-gietery in Glasgow. Van die ketting wat om die drinkbak gespan was is net flentertjies oor en alhoewel dit in een van die breedste strate in Cradock staan, is daar aan twee kante van die monument glasskerwe weens motoriste wat laatnag daarin vasgejaag het.
Van die vier gegote perdepote waarop die drinkbak staan, is nog net twee volledig. In die drinkbak, wat sekerlik groot lafenis gegee het aan die ry- en trekperde van ver- vloeë dae, lê daar nou ’n versameling van nagemaakte hare, die oorskot van haarkleursel en leë hoesmedisyne-botteltjies.