Gevreesde wurm steek kop uit

SLEGS enkele dae nadat Oos-Kaapse graanboere gewaarsku is om op die uitkyk te wees vir uitbrake van die vernietigende herfs kommandowurm in die provinsie, is die eerste uitbraak bevestig.


SLEGS enkele dae nadat Oos-Kaapse graanboere gewaarsku is om op die uitkyk te wees vir uitbrake van die vernietigende herfs kommandowurm in die provinsie, is die eerste uitbraak bevestig.

Volgens Mlibo Qoboshiyane, LUR vir landelike ontwikkeling en grondhervorming, is die teenwoordigheid van herfs kommandowurms in die Ncera-distrik bevestig nadat toetse op plantmonsters wat in mielielande hier geneem is, positief getoets het in die laboratorium van die departement van landbou, bosbou en visserye in Stellenbosch.

Die herfs kommandowurm, ’n kwarantynpes in Suid-Afrika wat in baie gewasse kan voorkom, het verlede jaar miljoene rande se skade in die Oos-Kaap en groot dele van die land aangerig. Die Vrystaat het veral kwaai onder hierdie vernietigende wurms deurgeloop.

Qoboshiyane het onmiddellik beheer geneem oor die beheer en bespuiting van die herfs kommandowurms sodat verhoed kan word dat vernietigende skade weer aan mielieoeste aangerig kan word, en verspreiding ook tot die minimum beperk kan word.

Volgens Mvusiwekhaya Sicewetsha, die LUR se woordvoerder, het Qoboshiyane reeds gistermiddag ’n ontmoeting gehad met die inwoners waarna onmidellik met die bespuiting van die mielielande begin is.

Qoboshiyane het die provinsie se graanboere dringend versoek om hulle mielielande deeglik te inspekteer vir enige voorkoms van die wurm.

Produsente moet die plante ondersoek waar die blaar aan die stingel geheg is. Die eiers en larwes sal daar voorkom, terwyl volwasse wurms die blare vreet. Volwasse larwes kan selfs die stingels van die plante aanval.

“Dit is uiters belangrik dat doodseker gemaak word dat geen van die herfs kommandowurms in die lande voorkom nie. Afgesien van mielies kan die wurm ook sojabone en sorghum aanval.

“Boere word aangeraai om die departement se plaaslike en distrikskantore, of Dr Thembakazi Silwana (063 694 0918) te kontak rakende die pes. Soos verlede jaar sal opleiding van betrokke amptenare gedurende die seisoen gedoen word,” het Qoboshiyane bygevoeg.

Volgens Bomakazi Molapo, woordvoerder vir die nasionale departement van landbou, bosbou en vissery is die motte van dié wurmspesie sterk vlieers en kan dit baie vinnig van een gebied na ’n ander versprei.

Dit kom normaalweg in Suid- en Sentraal Amerika voor en is die eerste keer sowat twee jaar gelede in Afrika opgemerk toe dit in Nigerië voorgekom het.

You need to be Logged In to leave a comment.