Gewilde bergfietsuitdagings op pad na Cradock

DIE naweek van 27 tot 29 April gaan Cradock ’n miernes van bedrywighede wees met die Karoo Kosfees van Vrydag tot Sondag en die baie gewilde Swaershoek-bergfietsuitdaging op Sondag.


DIE naweek van 27 tot 29 April gaan Cradock ’n miernes van bedrywighede wees met die Karoo Kosfees van Vrydag tot Sondag en die baie gewilde Swaershoek-bergfietsuitdaging op Sondag.

Hierdie bergfietsuitdaging wat elke jaar meer gewild raak, is vanjaar vier jaar oud en deelnemers van die Kaap, Bloemfontein, Port Elizabeth en omliggende dele word verwag. Onder hulle is Lizaan van der Merwe wat al Suid-Afrika verteenwoordig het, sowel as JP Minnie en Jason Meaton.

Die roete, wat ’n ware uitdaging is, word in drie afdelings van 20, 40 en 80 kilometer aangebied.

Die sterk manne en vroue wat vir die 80km oor die Swaershoekpas kans sien, gaan ongeveer 1 045 meter oor die eerste 21km klim en daarna ’n hele paar haarnaalddraaie bemeester voor hulle weer afkom om deur Karooveld en besproeiingslande terug te keer na Cradock-gholfklub waar dit alles die oggend begin het.

Waterpunte sal elke 20km beskikbaar wees. Op die trappers wat die korter afstande aandurf, wag daar ’n uitdagende verskeidenheid gruis- en Jeep-paaie wat hulle deur pragtige natuurskoon sal neem.

Die mees opwindende deel van die hele dag is gewoonlik die kleuterresies wat ná voltooiing van die bergfietsren en voor die prysuitdeling plaasvind.

Die organiseerders het verlede jaar vir 20 of 25 kinders voorberei, maar 45 het opge-daag. Vanjaar kan kinders weer in drie afdelings, 3-6 jaar, 6-8 jaar en agt jaar of ouer deelneem.

Ouers wat saamhardloop en die kinders luidkeels aanmoedig terwyl daar gesellig op die gholfbaan se groen gras gekuier word, sorg vir groot pret en plesier.

You need to be Logged In to leave a comment.