GILL-KOLLEGE op Somerset-Oos het onlangs ’n dubbeldoor geselligheid in hul ou biblioteek gehou.
Daar is afskeid geneem van Chris Muller, waarnemende skoolhoof en Shirley Slater-Billet is as nuwe skoolhoof verwelkom.
Roana Nel en die gr. 11-gasvryheidsleerders het gesorg vir ’n voortreflike ete.
Tydens Muller se afskeids-toespraak het hy verslag gedoen oor sy agt maande by die skool, sy blootstelling aan die binne-werkinge van ’n hoërskool en dat hy die ondervinding wat hy opgedoen het as ’n belangrike leerkurwe beskou.
Hy het gesê hy het in die kort tydjie ’n passie vir die pragtige skool met sy ou geboue en sy ryke geskiedenis ontwikkel. Hy het dit geniet om met so ’n uiteenlopende en breë spektrum Somersetters te kon kennis maak en gesels in sy handel en wandel. Tydens sy drafsessies het hy ook baie mense teëgekom wat hy andersins moontlik nooit eers sou ontmoet het nie.
Hy het een van sy ander stokperdjies ook hier kon uitleef deur al vier die kerke in die dorp sommer soggens voor skool te besoek.
In haar toespraak het Slater-Billett, wat die eerste vroulike skoolhoof by Gill is, gesê dat sy opreg dankbaar en bly is om terug te wees in die hart van die Gill-familie en om nie meer Sondae haar tassie te pak en in die rigting van die Kamdeboo-vlaktes te vertrek nie.
Sy is entoesiasties en passie-vol oor die uitdagings en moontlikhede van Gill wat deel van haar asemhaal en gedagtes geword het.
Marina Marais het ’n skildery van Gill se hoofgebou deur dr. John van der Walt as blyk van waardering vir sy goeie leiding aan Muller oorhandig.