Gill-Kollege groet Lettie ná 30 jaar

GILL-KOLLEGE het onlangs ná 30 jaar se diens van Lettie Magabane afskeid geneem.


GILL-KOLLEGE het onlangs ná 30 jaar se diens van Lettie Magabane afskeid geneem.

As waardering vir haar getroue diens het die skool tydens die geleentheid ’n mooi tuinbankie met ’n gedenkplaatjie aan haar oorhandig.

Lettie het in 1983 by die geledere van Gill-Kollege aangesluit. Sy het spoedig steunpilaar- en staatmakerstatus bereik.

Tee en koffie uit Lettie se hand het die onmiskenbare smaak van omgee gehad en vir uitgemergelde pouse-verlangers was die personeelkamer en haar groot glimlag ’n welkome onderbreking van die uitdagings van die klaskamer.

Op sportdae was sy agter die pannekoektafel in die kafeteria op haar pos. Sy en haar uitgesoekte span het die pannekoek-logistiek glad laat loop. Buiten vir haar vriendelikheid en baie fyn waarnemingsvermoë, was haar ander uitsonderlike eienskap dat sy nie sommer “nee” gesê het nie. Die gevolg was dat Lettie by baie meer as net skooltake haar plek volgestaan het.

Volgens haar sal Gill-Kollege en sy mense altyd ’n prominente plek op haar gebedslys hê.

You need to be Logged In to leave a comment.