DIE jaarlikse ope-dag by Gill-Kollege in Somerset-Oos is onlangs gehou.
Gr. 7’s van skole in die omgewing en hul ouers het ’n oggend, onder leiding van die 2018-bestuurskomitee, op die eeu en ’n half oue kampus deurgebring.
Die uitgangspunt vir die hele dag was dat voornemende leerders ’n aangename smakie moet kry van die #IAMGILL, wat die tema van die 150-jarige feesvieringe in 2019 is.
Hierdie gr. 7- leerders sal in die ge-skiedkundige 2019, wanneer die skool sy 150ste verjaardag vier, die nuwe-linge wees en terselfdertyd geskiedkundige spore trap.
Die skoolhoof, Chris Muller, en die hoofleiers Michael du Raan en Marli van Gend het almal in die saal verwelkom.
Guillaume Schoon het hierna inligting rakende die akademie, vakkeuses, sport, kultuur en geestelike bedrywighede van die skool meegedeel. ’n Begeleide toer onder leiding van die VRL is deur die skool onderneem en klaskamers is uitgewys.
Hierna het die geesbouprosessie deur die skool, onder leiding van die VRL, gevolg.
Op die skoolterrein het die eerste sportspanne die kern van ’n groot skoolsirkel gevorm en die besoekende leerders was deel van hierdie “Gill-oond”. Die verrigtinge is uiteindelik met die passievolle Gill- kreet afgesluit.