GILL-KOLLEGE het amptelik op Sondag, 18 Maart, die rype ouderdom van 149 jaar bereik.
Die skool het reeds twee dae vroeër op 16 Maart hulle feesvieringe gehou. Gill-Kollege se oprigting is te danke aan dr. William Gill wat in 1829 as distriksgeneesheer op Somerset-Oos aangestel is.
Hy het ’n begeerte gehad om vir die jeug se opleiding voorsiening te maak en hierdie droom is op 18 Maart 1869, ses jaar ná sy dood, verwesenlik toe Gill-Kollege geopen is.
Hierdie jaar se fees het ’n amptelike seremonie ingesluit waar ’n klein groepie leerders, afgerig deur Junior Yantolo – wat ook ’n leerder is – die nasionale volkslied op voortreflike wyse in a acapella-styl vertolk het.
Die gasspreker vir die oggend was Priscilla Kennedy, ’n oudleerder van Gill. Sy en haar Ierse man, James, is albei entrepreneurs. Hulle het hul besigheid, die “Tech Hub”, wat wêreldwyd kliënte bedien, in Somerset-Oos gevestig.
Ná die saalbyeenkoms het die gehoor na die grasperk voor die ou universiteitsgebou, wat tans as die skoolbiblioteek dien, beweeg.
Ná Aldred Israel se tromroffel is ’n salvo deur Michael Rossouw onder die wakende oog van Frikkie Marais afgevuur. Toe het die hoofseun Michael du Raan en die hoofmeisie Marli van Gend, kranse op die grafte van dr. Gill en ’n oudonderwyser gelê.
Elke leerder is ook met ’n kolwyn-tjie bederf en die oggend se feesvieringe is met welkome motreën afge-sluit.