REDENAARS van Gill-Kollege in Somerset-Oos het hul stem behoorlik dik gemaak tydens die ATKV-halfeindronde vir redenaars in die Suid- en Oos-Kaapstreek wat onlangs by die Hoërskool Outeniqua in George gehou is.
Cole Hendricks het na die nasionale kompetisie deurgedring, wat op 17 Augustus in Rustenburg by die ATKV-oord, Buffelspoort, gehou gaan word. Hy neem in die gr. 10-12 Addisionele Taal-afdeling, in die onvoorbereide kategorie, deel.
Cole is baie opgewonde oor die groot eer wat hom te beurt geval het en sê hy is reeds besig om sy tong en brein vir die finale rondte te slyp.
Nog ’n leerder van Gill, Siphosethu Feni, het in die gr. 10-12 Addisionele Taal-afdeling in die voorbereide kategorie vyfde ge-eindig.