Graad sewes geniet Opedag by Hoërskool Middelburg

VRYDAG 25 Mei 2018 was ’n groot dag vir die groep van ongeveer 40 Graad 7 leerders wat die Hoërskool Middelburg se Opedag bygewoon het.


VRYDAG 25 Mei 2018 was ’n groot dag vir die groep van ongeveer 40 Graad 7 leerders wat die Hoërskool Middelburg se Opedag bygewoon het.

Binne die skoolsaal was daar unieke uitstallings van die verskillende vakgebiede wat die leerders en ouers kon besigtig. Die Graad 7’s is eers deur 2018 se hoofleiers, Clive Green en Aniel van Deventer verwelkom, waarna Middies se jeugwerker Ruan Stannard vir hulle ’n kort geestelike boodskap gegee het.

Tydens die skoolhoof, Mariaan Stannard se toespraak, het die leerders en ouers aandagtig geluister na al Middies se prestasies van die afgelope maande, asook waarom elkeen graag ’n Middie wil wees.

Die Hoërskool Middelburg streef daarna om ’n gebalanseerde kind met die uitdagings wat hedendaagse omstandighede meebring, op te voed en te onderrig.

“Ons beskou die plattelandse milieu waarin ons onsself bevind as ’n groot voordeel. By Middies kan ’n kind nog kind wees sonder dat hy/sy enige geleenthede ontneem word,” het Stannard haar toespraak mee begin.

Verder het sy met trots vertel van Middies se hoë slaagsyfer die afgelope jare en dat die skool werklik trots is op die leerlinge se aka-demiese prestasies.

Die Hoërskool Middelburg handhaaf ’n slaagsyfer van tussen 90 en 100% vanaf 2012 tot 2017. Middies se matriekuitslae het vir 6 jaar agtereenvolgend die trofee vir die beste akademiese skool in die Cradock-distrik verower.

In 2017 is Middies se top kandidaat, Janico Snyman aangewys as Beste Matriekleerder in Chris Hani Wesdistrik. Hy het sewe onderskeidings behaal en onder meer 100% in Rekeningkunde.

Met hierdie puik uitslae het Janico die vyfde plek in die Oos-Kaap behaal.

Terwyl die ouers en leerkragte in die son saam ’n koppie tee en verversings geniet het, is die leerders in 2 groepe opgedeel en het hulle besoek afgelê by die Verbruikerstudie en Lewenswetenskapklasse.

Hul laaste besoekpunt was dié van ds. Stannard by die Fisiese Wetenskap klas waar die rookwolke, vreemde gasse en klapgeluide verskeie gille die hoogte in laat skiet het.

Die vrolike Graad 7 groep begin eersdaags met hul laaste Junie eksamen in die Laerskool en die Hoërskool Middelburg wens hulle alle sterkte toe.

You need to be Logged In to leave a comment.