FAK vereer man van Graaff-Reinet vir onbaatsugtige diens

CJ Langenhoven het gesê: “Om af te breek, is geen kuns nie; ’n klein babatjie kan ’n blommetjie verniel wat dit ’n God gekos het om te maak.”


CJ Langenhoven het gesê: “Om af te breek, is geen kuns nie; ’n klein babatjie kan ’n blommetjie verniel wat dit ’n God gekos het om te maak.”

Daar is min mense wat dié woorde van Langenhoven so goed verstaan soos Paul van den Berg, ’n jarelange inwoner van Graaff-Reinet.

Van den Berg is bekend vir sy jarelange onbaatsugtige en opbouende diens aan dié dorp en sy gemeenskap en daarom het die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) vanjaar besluit om hom te bekroon met die gesogde Baanbrekertoekenning.

In Mei vanjaar het die FAK ’n Oos-Kaapse toer gedoen, ter herdenking van die ondertekening van die Vrede van Vereeniging wat 120 jaar gelede plaasgevind het. Tydens hul toer het dié organisasie se Kultuurnetwerke in die Kaapprovinsies besoek afgelê in om hulde te bring aan Boere wat tydens die Anglo-Boereoorlog deur die Britse regering tereggestel is.

Met hul aankoms in Graaff-Reinet het hulle kennis gemaak met Oom Paul, soos hy in dié dorp bekend staan. ’n Man wat vir meer as 20 jaar lank al eiehandig, jaar na jaar sorg dat die graf van Gideon Scheepers, ’n gevalle ABO-held uit die geweste, onderhou word. Van den Berg reël ook ’n jaarlikse kranslegging op die herdenking van Scheepers se teregstelling, 18 Januarie (1902).

Van den Berg het die FAK se Baanbrekertoekenning ontvang tydens ’n byeenkoms van die FAK-Graaff-Reinet-Kultuurnetwerk, nadat die groep ’n kranslegging gedoen het in die dorp se begraafplaas by die gesamentlik graf van die burgers wat tydens die Anglo-Boereoorlog tereggestel is.

Sy belangstelling in Gideon Scheepers het begin toe hy tydens sy diensplig in die Gideon Scheepers-regiment een van die kisdraers was van Scheepers se ma met haar begrafnis.

Oom Paul het ook oor die jare omgesien na die graf vir die tereggestelde rebelle in die begraafplaas en op sy eie onkoste later ’n steen vir Gideon Scheepers by die ander sewe stene op die graf bygevoeg. Hy was ook betrokke by die instandhouding en herstel van die Gideon Scheepers-monument.

UITGEREIK: FAK

You need to be Logged In to leave a comment.