Graaff-Reinet is nou ’n motormuseum ryker

GRAAFF-REINET het vroeg in Augustus ’n nuwe museum ryker geword, net nóg ’n rede om dié geskiedkundige dorp te besoek.


GRAAFF-REINET het vroeg in Augustus ’n nuwe museum ryker geword, net nóg ’n rede om dié geskiedkundige dorp te besoek.

Sakeman Hannes van Jaarsveld, wat maar eers twee jaar gelede veteraanmotors begin versamel het, het besluit om dié vreugde van hom met die publiek te deel, en ReCollection Rides se deure is nou oop vir besoekers.

Sy pragversameling is inderdaad iets wat oud en jonk sal kan waar-deer. Nie net is daar ’n 1922 Wolseley E3 Doctor’s Coupé al die pad vanuit Birmingham nie, maar ook ’n paar vurige perde, soos die blitsrooi 1984 Porche Carrera 911 en 1969 Ford Mustang Mach 1.

Benewens die motors is daar ’n hele aantal motorfietse, en dan word daar ook gespog met ’n groot versa-meling speelgoedkarretjies van verskillende groottes. Sentimentele siele sal hulle kan verlustig in óú padte-kens en advertensieborde wat die mure versier.

Mid-Karoo Express het gesels met Urvin Frolik, wie se taak dit is om dié museum se inhoud te versorg, en hy vertel met trots hoe sommige van dié motors met groot omsigtigheid gerestoureer is. Frolik se gunsteling is ’n 1937 DKW, wat volgens hom nog selfs mooier lyk wanneer die af-slaankap toegetrek is.

Nie net is dié versameling in uitstekende toestand nie, maar hulle is ook almal padwaardig. Mid-Karoo Express het gewonder of Van Jaarsveld darem so af en toe een van dié enjins laat brul, en hy antwoord bevestigend.

“Ek ry graag met die 1958 Triumph TR3, wat ’n 2-liter enjin het. Die Mercedes 300SL en die Porsche ry ook baie lekker. Dis ’n interessante ervaring om met die óú karre uit 1922 en 1928 te ry.

“Aan die een kant is ek verstom oor die tegnologie wat hulle reeds tóé aan die dag gelê het, maar mens moet nietemin jou storie ken as jy hulle wil bestuur, want hul padhouvermoë is baie swakker as ons moderne voertuie s’n.”

Volgens Van Jaarsveld is die waardevolste voertuie die 1969 Mustang, Porsche en Mercedes 300SL, maar gemeet in rand en sent. “Daar is ook ’n 1931 Buick, wat ongerestou-reer is, en waarvan ek die volledige geskiedenis en rekords het. Dis ’n baie skaars voertuig, en ek gaan hom net soos hy is, bewaar.”

Van Jaarsveld vertel dat entoesiastiese besoekers reeds bydraes gebring het, soos ou motorhandleidings, ou motortydskrifte en ander memorabilia. “Ons stel ook belang daarin om ons speelgoedkarretjieversameling uit te brei, en hoop om nog heelwat ou padtekens en advertensieborde van die publiek te bekom.”

Hierdie is nie sommer ’n museum om net deur te draf nie, want die totale versameling beslaan twee groot persele by Kollegeweg 38 en 29. Besoekers kan heerlike vars filterkoffie en tuisgemaakte verversings geniet by die koffiehoekie wat deur Eunice Sweli en Handelie Carolus van Our Yard bedryf word. Toegang is R30 vir volwassenes en R20 vir kinders tussen 14 en 18 jaar. Die museum is weeksdae oop van 08:30 tot 17:00 en Saterdae tussen 08:30 en 12:00.

You need to be Logged In to leave a comment.