DIE Graaff-Reinet Museum het hulle 59ste algemene jaarvergadering op 8 Junie in die Ou Biblioteek Museum gehou.
Die voorsitter van die trusteeraad, Peter Whitlock, en die hoof van die museum, Anziske Kayster, het oor die jaar se werksaamhede verslag gelewer.
Whitlock het die aandag gevestig op die menige uitdagings wat die museum die hoof moes bied. Dit sluit veral ’n tekort aan broodnodige fondse in aangesien die jaarlikse subsidie van die provinsiale regering nie aan die daaglikse behoeftes van die museum voorsien nie.
Whitlock het ook in sy verslag sy dank uitgespreek teenoor Die Rupert Historiese Huise Stigting wat vir twee agtereenvolgende jare uitgebreide restourasiewerk aan die museumkompleks befonds het.
Hy het ook die publiek aangemoedig om tot Die Red Reinethuisfonds, ’n fonds wat vir die restourasie van die museumkompleks op die been gebring is, by te dra.
Hierna het Kayster in haar verslag die aandag gevestig op die onbaatsugtige diens wat die personeel van die museum lewer.
Sy het ook drie nuwe aanstellings verwelkom. Dit sluit Baphiwe Ngandi as administratiewe beampte, Sinethemba Citwa as hulpdienstebeampte en Zennevin Isaks as algemene assistent in.
Die fokus is ook geplaas op die museum se fotografie-versameling wat onder leiding van prof. Johannes Haarhoff en sy regterhand, Curtis Mitchell, gedigitaliseer word.
Twee verteenwoordigers van die Vriende van die Museumvereniging, Brian Hough en Liesl Heunis, is herkies om op die trusteeraad te dien.
Die vergadering is afgesluit met ’n voorlegging deur Sarah Cromhout. Sy is tans besig met ’n meestersgraad oor die invloed wat groot skaaptroppe op plantegroei, grond-inhoud en landskappe het.