Graaff-Reinet se rolbalklub het aan die Suid-Afrikaanse vierspel rolbalkam-pioenskap in Gqeberha by die The Woods-bane deelgeneem en dié gedugte span uit die Karoo was uiteindelik die naaswenners.
Die span van Dezi Rosenblatt (skip) het na Graaff-Reinet teruggekeer met ’n silwer medalje om die klub se versameling van medaljes, sertifikate en trofeë nog meer uit te brei.
Rosenblatt se spanmaats was Randell Cherry, Charlene Colyn en Desire Vermaak.
Behalwe vir Graaff-Reinet Rolbalklub se president, Oosie Oosthuizen, wat hulle met trots gelukgewens het, is hulle ook na afloop van die kampioenskap deur SA Rolbal se president, Heather Boucher, geloof vir hul prestasie.
Graaff-Reinet Rolbalklub bied op 2 Julie ‘n pare opedag rolbalkompetisie aan.
- Vir meer inligting oor die klub of om deel te neem bel Oosie Oosthuizen by 082 440 9277 of Niel Colyn 083 461 5667.