IN Graaff-Reinet is September die verjaardagmaand van ’n baie spesiale lentebaba – die Te Water-huis.
Die erf waarop Te Water-huis gebou is (op die hoek van Somerset- en Kerkstraat) is 200 jaar gelede in September 1818 toegeken aan Sir Andries Stockenstrom, destydse landdros en kommissaris-generaal van die Oos-Kaap.
In 1835 het dr. George Krebbs die huis vir 4 500 Prussiese daalders gekoop, en met sy afsterwe in 1846 dit nagelaat aan sy vrou, Jacomina.
In 1848 het sy met Franz Te Water, stadsklerk van Graaff-Reinet, getrou en het die huis vir langer as ’n eeu in die besit van die Te Water-familie gebly.
Eira (Hartzenberg) Maasdorp be-dryf reeds die afgelope 33 jaar haar oudhedewinkel, Reinet Antiques, van hier af. Sy vertel dat sy grootgeword het op die geskiedkundige plaas Nooitgedact, wat in die 1920’s met ’n bouvallige opstal wat dateer uit 1812, deur haar pa aangekoop en gerestoreer is.
“Tydens die groot oplewing in die wolbedryf in die laat 1950’s, het baie mense hul stinkhout- en geelhoutmeubels uitgegooi. Hulle het gedink dis oudmodies, en wou net belê in nuwerwetse embuiameubels. Ek het hul “ou” meubels opgeraap vir ’n appel en ’n ei, en in 1965 het ons antieke meubels vanuit ’n ou skuur op die plaas begin verkoop. Laterjare, met ons kinders op skool, het dit meer prakties geword om die winkel dorp toe te skuif.
“Ons was eers in Parsonageweg 18, toe in Parsonageweg 9A en B, en uit-eindelik na die Te Water-huis.”
Reinet Antiques spesialiseer in ou Kaapse meubels. Eira het oor die jare baie boekekennis opgedoen oor oudhede. “Ek het egter veral baie geleer deur veilings by te woon, en het ook kers opgesteek by die moeder van die bekende afslaer, Stephan Welz. Ek het haar in die Kaap op veilings leer ken, en sy het nie omgegee om haar kennis met my te deel nie.”
Sy was in 1968 saam met onder andere dr. Anton Rupert, stigterslid van Graaff-Reinet se Erfenisstigting.
Eira en twee vriendinne, Peggy Pienaar en Anne Matthews, was berug as die “three mad women”, wat hand en tand geveg het vir die behoud van geskiedkundige geboue wat ontwikkelaars wou sloop.
Moenie dat Eira se 82 somers jou flous nie – haar geheue is vlymskerp, en sy beskik oor verstommende kennis oor die groot versameling geskiedkundige geboue in die dorp. Sy vertel ook dat hulle steeds maandeliks veilings in Port Elizabeth gaan bywoon om winkelvoorraad aan te vul.
Benewens antieke meubels uit verskillende era’s kan toeriste en versamelaars hulle by Reinet Antiques verlustig in kunswerke, glasartikels, koper- en silwerware, asook ligtoe-behore, skuifslotte en skarniere wat uit gesloopte geboue gered is.
Besoek Eira en haar regterhand Jenny Maandae tot Vrydae van 08:30 – 17:00 en Saterdae van 09:00 – 12:00.
Hul kontaknommer is 049 892 4221.