Groot vermaak by 2018 Cradock-skou

DIE 2018 Cradock-skou vind vanjaar vanaf Donderdag, 25 Oktober tot Saterdag, 27 Oktober plaas en beloof groot vermaak.


DIE 2018 Cradock-skou vind vanjaar vanaf Donderdag, 25 Oktober tot Saterdag, 27 Oktober plaas en beloof groot vermaak.

Die 2018-perdeskou bars uit sy nate met meer as 160 inskrywings vir die SA Saalperd en ongeveer 40 Walliese Ponie-inskrywings.

Volgens Hendrik Opperman, skoupresident, is dit van die grootste aantal SA Saalperd-inskrywings wat nog ingeskryf is by Cradock-skou en die beskikbare stalruimte is reeds vol bespreek.

Die bekende Monty Gadd-klas vind Vry-dag, 26 Oktober om 18:00 plaas.

Wat die kleinvee-inskrywings betref, neem die toptelers van Merino’s, Angoras, Suid-Afrikaanse Vleismerino’s en Boerbokke deel.

Volgens Opperman word daar ook by die Lusernskou meer inskrywings as in 2017 verwag.

Die Oos-Kaapse Veteraantrekker-en-enjin-klub sal weer in groot getalle teenwoordig wees.

Die Jeugskou word weer vanjaar gekoördineer deur Heyla Meyer en beloof om 2017 te oortref. ’n Nuwe toevoeging tot die skou is die rodeo-vertoning wat in die kleiner arena te siene sal wees. Verder sal skougangers ook deur Skaaphond-vertonings op die hoofarena vermaak word.

Daar sal ook ongeveer 60 stalletjies vir die publiek wees om te besoek.

’n Mallemeule en vele kindervermaak sal weer eens tydens die skou aangebied word.

Die skemerkelkie word op Donderdag-aand, 25 Oktober vir die vertoners en borge aangebied terwyl die jaarlikse skoudans op die Vrydagaand sal plaasvind.

Vir meer inligting, bel Elmarie Barkhuizen, skousekretaresse, by 074 603 1407.

You need to be Logged In to leave a comment.