GROOTFONTEIN Landboukollege in Middelburg se rugbyspelers het 30 Junie tot 6 Julie aan die Suid-Afrikaanse Landboukolleges (SAAC) se nasionale rugbyweek by Cedara Landboukollege in Pietermaritzburg gaan deelneem.
Dit was die 32ste keer dat hierdie Pannar-rugbytoernooi, waarin agt kolleges om die IPJ du Plessis-trofee meeding, plaasvind. Die toernooi vind elke jaar by ’n ander landboukollege plaas en alhoewel dit aanvanklik hierdie jaar op Elsenburg sou plaasvind, is dit egter na Cedara geskuif.
Tydens die rugbyweek oorwin Grootfontein vir Tsolo met 54-13 en later die week vir Potchefstroom met 27-20 nadat die Pampoenboere die eerste helfte met 20-0 voorgeloop het.
Elsenburg en Grootfontein het Cedara op hul tuisveld met ’n oortuigende 111-0 geklop, in die guns van Elsenburg, terwyl Grootfontein 90 punte teenoor Cedara se 3 punte aangeteken het.
Hieruit was dit dus duidelik dat die finale wedstryd op Vrydag, 6 Julie ’n spannende naelbyt-einde tot gevolg sou hê.
Tydens die laaste dag van die Pannarweek, is die volgende tellings op die telbord aangeteken:
Tsolo wen Taung Landboukollege met 49-0, Potchefstroom wen Cedara met 60-0 en Fort Cox wen Glen Landboukollege met 32-5.
In die eindstryd tussen Elsenburg en Grootfontein het die Karooboere teen rustyd met 7-3 voorgeloop na-dat Gert Rupping die eerste drie vir Grootfontein aangeteken het.
Daarna is die bordjies egter verhang toe Elsenburg in die tweede helfte ’n paar drieë ingeryg het. Tydens die laaste paar minute het Grootfontein werklik hul beste ingesit om vir oulaas ’n paar punte aan te teken.
Met al hul mag het die voorspelers vorentoe gebeur waartydens Ruan Lambrecht ’n laaste drie vir sy span aangeteken het.
Die finale telling was 29-14 in Elsenburg se guns, waarmee hul dus die IPJ du Plessis-beker ingepalm het.