Hamergooiers wys hul staal

MIDDELBURG se eie Springbokke, Alan en Marga Cumming, se rekords op sportgebied kom reeds van hul skooldae toe hulle nog atlete by Hoërskool Middelburg was.


MIDDELBURG se eie Springbokke, Alan en Marga Cumming, se rekords op sportgebied kom reeds van hul skooldae toe hulle nog atlete by Hoërskool Middelburg was.

Alan, wat in 2014 by Middies matrikuleer het, en Marga wat in 2016 haar skool-loopbaan by Middies voltooi het, het reeds op skool al hul staal met hamergooi gewys.

Jaar na jaar het hulle met die rekords weggestap en niks het hulle gestuit om nog verdere prestasies op die gebied van hamergooi aan te teken nadat hulle na matriek verder gaan studeer het nie.

Vanjaar het hierdie twee Protea-atlete weer eens vir min teruggestaan in hamergooi. Alan het sy man gestaan teen ander top atlete en hy is tans op die derde beste afstand in Suid-Afrika vir 2018.

Hy is slegs 1m agter die beste afstand en dit is verseker vir Alan ’n groot mikpunt vir die nuwe atletiekseisoen wat 11 Oktober 2018 begin.

Alan het vanjaar ook Suid-Afrika verteenwoordig by die Senior Afrika Kam-pioenskappe in Nigerië waar hy ’n sesde plek behaal het. By die Studente-kam- pioenskappe asook Varsity Cup het hy die tweede plek behaal.

Marga, wat reeds op skool al die o.15, o.17 en o.19 SA skolerekords in hamergooi verbeter het, het vanjaar die tweede beste afstand in Suid-Afrika met hamergooi behaal.

Tydens die Grand Prix-byeenkoms het sy teen internasionale atlete deelgeneem en die eerste plek verower met ’n persoonlike beste afstand vir die jaar van 58.41m. Marga het ook die eerste plek by die Studente-kampioenskappe asook Varsity Cup-byeenkoms ingepalm.

Die trotse ouers van Middelburg se groen-en-goud hamergooiers, Donnie en Rethie Cumming, ondersteun hul kinders reeds van jongs af langs die sportveld en ontsien nie ’n geleentheid om hulle by te staan en af te rig waar nodig nie.

Tans is Chris Harmse, wat die SA senior titel vir 23 jaar na mekaar verower het, Alan en Marga se afrigter. Chris hou ook ’n wêreldrekord vir die meeste agtereenvolgende nasionale titels asook die Suid-Afrikaanse rekord van 80.63m in hamergooi.

You need to be Logged In to leave a comment.