Harde werk, groot drome bring Jonathan ver

JONATHAN Martin van Somerset-Oos is ’n geesdriftige jong man wat glo dat alles moontlik is as jy jou drome kan najaag en dan hard werk om hulle te verwesenlik.


JONATHAN Martin van Somerset-Oos is ’n geesdriftige jong man wat glo dat alles moontlik is as jy jou drome kan najaag en dan hard werk om hulle te verwesenlik.

Hy is ’n sprekende voorbeeld hiervan, want hy is steeds besig om die leer van sukses te klim. Hy is as die middelste kind van drie in Somerset-Oos gebore. Hy het sy skoolloopbaan by die St. Teresa Primêre Skool begin en aan die Hoërskool Aeroville in 2002 gematrikuleer. Sy ouers, Valencia en Joseph, het hom bly aanmoedig om altyd beter te doen vir homself.

In 2005 is hy vir verdere studie in maatskap-like werk by die Nelson Mandela Universiteit (NMU) aanvaar – ’n geleentheid wat hy met albei hande aangegryp het. Gedurende sy derde en vierde jaar is hy as die beste praktiese student in die Departement van Maatskaplike Werk bekroon en hy het in 2008 sy honneursgraad behaal.

Jonathan het daarna as kantoorbestuurder in Graaff-Reinet gaan werk en ná net twee jaar se ondervinding is hy as die beste maatskaplike werker in die Graaff-Reinet-gebied bekroon. Hy het ook verdere erkenning op provinsiale gebied ontvang.

Vasbeslote om nie op sy louere te rus nie, het hy voortgebeur en is hy as kantoorbestuurder van Kindersorg SA in Graaff-Reinet aangestel. Twee jaar later is hy tot areabestuurder van Kindersorg SA bevorder waar hy aan die spits gestaan het van 12 kantore in die Sarah Baartman-distrik.

Intussen het die studeergogga weer gekrie-wel en het hy sy meestersgraad met lof aan NMU in 2016 voltooi.

Die DA het hom ingekatrol en hy het ’n raads-lid vir die DA by die Blue Crane Route-munisipaliteit in Somerset-Oos, waar hy steeds is, geword.

Hierdie geesdriftige jong man wend ook sy sterk leierseienskappe op ’n positiewe manier aan en hy het in 2016 ’n nie-winsgewende organisasie, “Helping Hands” gestig om leerders te help om ten minste matriek te voltooi.

“Om terug te gee aan my gemeenskap is baie na aan my hart omdat ek self weet waardeur kinders gaan. Dit is belangrik dat jong mense besef dat hul lewe in hul eie hande is en dat hulle hul drome kan uitleef as hulle in hulself bly glo.” – DEONETTE HAGGARD

You need to be Logged In to leave a comment.