Uiteindelik gering, gemêrrie en geseën en daar gaat julle in jul grênde pêrekar “to live hêppily ever after.” Die prins en sy aspoestertjie.
Geluk, man, baie geluk. Myse mooiste wense vir julle tweetjies daar in julle huisie met die spotnaam, “Not Cot”. Sommer ook kruiwaens vol olyftakkies om by julle tafel aan te sit.
Ag, Harry, my kjind, jy weet seker by dié tyd dat jouse boomstam, ekskuus, stamboom, belangrik is – veral vir julle koninklikes met die ryke geskiedenis en goeters wat teruggaat tot doer in die agterste geslagte in die gryse verlede in. Sien, die geskiedenis is geneig om homself te herhaal en in jou geval is dit wat nou juis aanie gebeure is: niks bly dieselfde nie, tye verander en ooreenkomste met jou lewe is daar sommer baie.
Vat jou doopnaam, Henry. Wees tog maar bly mense noem jou Harry of Haz of Rooies of Ginger, want ai, dit sal maar sleg wees om elke keer as jy “Henry” hoor, herinner te word aan die egoistiese en spandabelrige ou Koning Henry VIII van toet-toenter eeue terug in jul koninklike voorgeslagte in.
Die ou bogger het mos nie mooi gemaak met sy sestig, ag, askies, ek tel nou sommer die houvroue ook by; sy ses vroue nie. Maar weet jy, ou kinta, ou dikkes het darem ook goed gedoen en dit was toe hy “The Church of England” onner die vorstelike kroon gekry het. Onthou dan lie-wer die goeie van jou naamgenoot.
En nou hierie “geskeide vrou” ding. Hier spring Koning Edward VIII van sommer nourie anner dag, binne-in my se ou, grys kop in.
Sien, hy was jou ouma, koningin Elizabeth, se pa, George, se broer se …… (O, gaats, amper verdwaal ek té ver op hierdie stamboom se sy-tak.) Koning Edward VIII was toe allie tyd van sy prinsdae af smoorverlief op ’n geskeide, Amerikaanse sosiale vlinder toe hy die kroon kry.
Gemaklik op die troon, slat die hoë magte hom sommer kaplaks vorie kop met die slegte nuus dat hy nie met sy Bessie mag trou nie. En dis net daar waar hy die waardevolle kroon netjies in sy ferweelboksie terugsit, die stof van sy koninklike skoene afskud en Frankryk toe verkas waar hy met die liefde van sy lewe, Wallace Bessie Simpson, trou en nes bou. Die arme man se titels spring toe van prins, na koning, na Hertog van Windsor binne een jaar omdat hy hom sommer self verban het van al die prag en praal en die baie paleise waaraan hy gewoond was.
Foeitog, toe moet Edward se jonger broer, George, die kroon dra, maar hy wou nie – sien, hy was skamerig en het boonop gehakkel. Sy vrou, Elizabeth, jou dierbare en geliefde ouma-grootjie, is toe baie ongelukkig oor haar man sulke lang krokodiltrane by sy ma hýl oor hy nie wil troon toe nie. Toe skop sy darem vir jou stofwolke op dat die Londenaars vir dae lank gladnie eens die Buckinghampaleis kon sien nie – seg die mense wat weet. Groot onmin innie fêmilie, seg ek jou. En, sjym, hy moes toe maar al stotterend en stamelend die kroon oppie kop dra.
En nou nog groterer en beterder nuus – jou voor-, voor-, voor- voorsaat, was ook so dubbelgeveerd nes jou oulike Meghan. Sy was koningin Charlotte uit die Portugalse koningshuis wat ’n direkte nasaat van ’n Moor vars uit Afrika was. Van haar pertrette is reg gekwas om nie die Afrikatrekke so duidelik te laat uitstaan nie. En wee jy, sý was koningin Victoria se ouma.
Joe, jou stamboom se takke rank ver terug. Terug tot in Afrika. En weejy, Megan se “roots” loop ook terug tot in donker Afrika. G’n wonner julle is albei so lief vir die kjinners van Afrika nie. Dis ingebore en afgeëets in julle se gene. So, dis nou die tyd dat jy die Hertog en Hertogin van Sussex se geskiedenis begin skryf.
Kjint, sien jy hoe gelukkig is jy dat jou ouma toe nie in haar komkommertoebroodjie en tee verstik het toe julle die “jay or nay” gaan vra hettie? Tja, want soos alle oumas, weet sy álles.