Wat maak enige kind se naweek? ’n Naalde-koker wat met die einde van ’n skooldag hier reg onder jou neus kom land.
Dit was die bonus wat twee primêre skole die afgelope Vrydagmiddag gekry het toe ’n polisiehelikopter eers op ’n oop stuk grond in hul woonbuurt en later op een van die twee skole se speelgronde gaan land het.
Aanvanklik is vermoed dat die heli enjinprobleme ondervind het omdat dit ’n paar keer oor die dorp gesirkel het voor dit eindelik geland het.
Die tydsberekening van die landing was ook goed, want dit het saamgeval met die loei van die twee skole se sirenes wat die einde van die skooldag aankondig.
Hordes uitbundige leerlinge het op die helikopter toegesak om dit van nader te be-skou. Sommige was selfs so voorbarig om in die kajuit te klim.
Die bemanning, Sersant Quinton Swartbooi en vlugkaptein Shaylin Padayatchi was ook nie suinig om vir Mid-Karoo Express ’n onderhoud toe te staan nie.
Luidens Padayatchi was hulle van Bulembu lughawe naby King William’s Town en het hulle oor verskeie plattelandse dorpe gevlieg om polisie-sigbaarheid te bevorder.
“Daar is die afgelope tyd net ’n té groot voorkoms in misdade en transito-rooftogte in ons plattelandse dorpe en ons wil hê dat misdadigers moet weet dat ons hulle uit die lug sal jag,” het Padayatchi gesê.
Die glimlagte op leerlinge se gesigte het boekdele gespreek en Padayatchi en Swartbooi het met vele leerlinge en lede van die gemeenskap vir ’n foto poseer voor hulle weer die diepblou hemelruim ingevaar het te midde van ’n magdom wuifende kinderhandjies.