Herinneringe reën neer soos die druppels val

NIKS op dese aarde maak my so liries soos die magdom natuurelemente van die Skepping nie. Hael, weerlig, donder, reën, wind en sneeu hou vir my ’n onbeskryflike bekoring in. En juis daarom het ek myself op laerskool reeds sterk ingeleef in die poësie


NIKS op dese aarde maak my so liries soos die magdom natuurelemente van die Skepping nie. Hael, weerlig, donder, reën, wind en sneeu hou vir my ’n onbeskryflike bekoring in. En juis daarom het ek myself op laerskool reeds sterk ingeleef in die poësie waar hierdie natuurverskynsels deur vooraanstaande digters besing is.

Juis daarom het ek vandeesweek, met die die ritmiese geluid van oordadige reëndruppels op my woning se sinkdak my ge-dagtes in die vroeë oggendure na my kaalvoetkinderjare in my geboortedorp teruggevoer.

Ek het weer saam met ons ander huiskinders om die verwelkomende warmte van ons Welcome Dover houtstoof gesit. Terwyl die reën buite genadiglik op die eers dorre aarde uitsak en die vlamme by die skrefies van die stofie se ronde ysterplate uitlek. Op strategiese punte op die ongelyke misvloer staan ’n skottel of emmertjie waarin druppels water ritmies uit enkele van die sinkplaatgate van die plafonlose tweevertrek-huisie drup. In ’n hoekie langs die toegewerwelde kombuisdeur staan ouma se langsteel-grasbesem. Die een waarmee sy huis uitvee en ook ’n naderende haelstorm met sulke armswaaie wegwuif.

Die beddens is van alle komberse ge-stroop, want reeds met die eerste waarskuwende blits op die horison het ouma al wat spieël of blinkding in die huis is daarmee toegegooi. Stil soos muise het ons gewoonlik gesit. Sonder giggel of glimlag. Want die oumense het geglo dat ’n stel wit tande ’n vriendelike uitnodiging aan weerlig is om op jou werf te kom slaan. Maar die kersie op die koek was wanneer ’n donderstorm hier teen middernag losgebars het. Dan het Oupa almal uit hul lêplek opgejaag en moes ons eerbiedig kiertsregop in ons beddens sit totdat die donder en weerlig bedaar.

Middagete was die opwindendste van so ’n lekker reënerige dag. Want dan was mielies en bone met lekker vleiserige murgbene op die spyskaart om die somberheid van die reën en koue daarbuite te verdryf. Met opgehelderde gesiggies sou ons dan murgbene suig en later die laaste sousies op ronde ri-vierklippies uitkap en met ons tongetjies aflek.

Wanneer die somersonnetjie in die na-middag deur die wolke breek en die reënboog op die horison verskyn het ons lekker buite in die magdom poeletjies gaan speel en uitbundig agter reëngoggas aangedartel. In die vele waterstroompies het ons papierbootjies ter water gelaat en ons hier en daar verkyk aan ’n jankrap wat skeef-skeef in die rigting van die aangrensende rivier koersvat.

Ek slaan my koerant later oop met die klank van gietende reën steeds in my ore, wetend dat ek my luilekker kinderdae enige tyd sal oorleef as ek net kon. Maar onge-lukkig is as verbrande hout en lekker maar net vingerlank.

You need to be Logged In to leave a comment.