Hoër Landbouskool Marlow sal voortaan ook met Dohne-merino’s boer

DIE Dohne-stoettelersgenootskap het 150 ooie, afkomstig van stoettelers se kuddes, aan die Hoër Landbouskool Marlow geskenk.


DIE Dohne-stoettelersgenootskap het 150 ooie, afkomstig van stoettelers se kuddes, aan die Hoër Landbouskool Marlow geskenk.

Hierdie is die eerste van 300 ooie wat uiteindelik na die skool toe sal kom.

Volgens Pieter Steyn, skoolhoof, is hulle dankbaar vir die inisiatief. “Die Genootskap skep hiermee groot blootstelling aan verskillende rasse vir ons seuns,” het hy gesê.

Kobus Delport, bestuurder van die Dohne- telersgenootskap het klem daarop gelê dat hierdie skenking nie in kompetisie met merinotelers is nie, maar slegs om die seuns se horisonne te verbreed.

Hy het gesê die voordeel van Dohneskape is dat hulle geteel word om harde en aanpasbare diere te wees. “Die produksiekenmerke van elke dier word gemeet en die meting in teelwaarde verwerk om teeldiere uiters akkuraat te selekteer,” het hy verduidelik.

Hy het bygevoeg dat die metode van presiese kleinveeboerdery onontbeerlik is en dat die ver-eniging vordering op Marlow sal dophou en betrokke sal bly. Volgens hom sal die dubbeldoelras die perspektief van die leerders tot skaapboerdery baie verbreed. Die dubbeldoelras se inkomste is 80% uit vleis en 20% uit wol.

Volgens Delport het Dohnes dieselfde kwaliteit wol as merino’s, maar ’n effens laer produksie, waarvoor die vleiskomponent meer as verdubbel. Die hoofvoordeel van ’n dubbeldoelras is ’n hoër produksietempo en speenpersentasie sonder om wolkwaliteit prys te gee.

Hy het gesê dat daar tussen stoetboere se re-gistrasiesyfers in 2012 meer tweelinge as enkelgeboortes geregistreer is en dat Dohnes nie kunsmatig bevorder word nie, maar van die veld af geboer word.

Flippie Marais, vise-president van die Dohne-telersgenootskap, sê hulle sal jaarlikse kursusse in Dohne-bestuur vir die seuns op Marlow aanbied. Ramme moet deur die skool self van telers van hul eie keuse aangekoop word. Alle opbrengste en aanwas sal aan Marlow behoort.

Koos Vosloo, president van die Dohne-telersgenootskap het tydens sy oorhandigingstoe-spraak die skool bedank vir die geleentheid om die kinders aan ’n nuwe ras bloot te stel en ook om die ras by die skool bekend te stel.

James Jordaan, voorsitter van Marlow se be-heerraad, het die Dohne-telersgenootskap bedank vir die gebaar wat tot groot voordeel van die skool is.

You need to be Logged In to leave a comment.